In ’n onlangse studie waarvan die uitslag in die British Medical Journal gepubliseer is, is 80 000 mense en 20 000 borskankergevalle bestudeer. Die navorsers het bevind dié wat baie olierige vis geëet het, se kans op die siekte is met tot meer as ’n tiende verminder.

Dit is die hoë vlakke omega-3-poli-onversadigde vetsure wat tot hierdie bevinding bygedra het, want dit reguleer die aktiwiteit van jou immuunstelsel en bloedvate. Dit word aangetref in vis soos tuna, salm en makriel, en help ook hartsiekte en ander kankersoorte beveg.

Maar dis nie net vetterige vis wat kan help nie; hierdie vetsure kom ook voor in okkerneute en groen groente, soos spinasie.

Broccoli kan ook gewasse se groei help keer. Dit is die saamgestelde sulforafaan wat dit doen, en dit kom ook voor in kool en boerkool; werk dit dus by jou kos in.

Nie ’n aanhanger van groente nie? Suiwel is ook ’n opsie, en in ander navorsing is daar ’n verband gevind tussen hoë vlakke kalsium en vitamien D, en laer borsdigtheid, wat ’n laer risiko vir kanker beteken. Terwyl dit nie ’n feit is nie, het die navorsers wel bevind hoë vlakke suiwel kan waarskynlik jou kans op ’n diagnose verlaag. Maar dit beteken nie jy moet kop verloor nie; bly gesond met laevetweergawes waar moontlik, en voeg suiwel subtiel by waar jy kan.

Vrugte help ook in dié verband; bessies met baie ellagiensuur, soos aarbeie en frambose, help blykbaar blaas-, long-, bors- en velkanker voorkom. Ellagiensuur is ’n soort fitochemikalie wat natuurlik in plante voorkom. Daar is ook al bevind dat tamaties die kans op borskanker met tot ’n vyfde kan verminder danksy hul baie karotenoïede, organiese pigmente wat die liggaam in vitamien A omskep.

Laastens kan jy ’n bietjie borrie by jou kos voeg. ’n Kerrie propvol van dié geel poeier bevat teenontstekings- en antiseptiese eienskappe, wat die groei van kankerselle stuit.

© Cover Media