Wie het dan nog nooit gehoor van Atkins se hoëproteïene-dieet en van die wonderlike resultate wat mense daarmee behaal het nie?

Hierdie manier van eet help mense ongetwyfeld die kilogramme afskud, maar dis miskien nie op die lange duur so gesond nie. Tydens onlangse navorsing is bevind dat die vermindering van die hoeveelheid proteïene wat jy eet en die vervanging daarvan deur koolhidrate, in werklikheid die sleutel tot ’n lang lewe is.

’n Span van die Universiteit van Sydney, Australië, het die uitwerking ondersoek wat verskillende diëte oor ’n tydperk van agt weke op muise gehad het. Die muise het wisselende hoeveelhede proteïen en koolhidrate gekry, en vir party van hulle was die kos geredelik beskikbaar, terwyl ander in ’n meer beheerde omgewing was.

Daar is bevind wanneer die hoeveelheid van elke soort kos gemeng is, het dit dieselfde uitwerking op die muise gehad as in die gevalle waar die kilojoules met 40 persent verminder is. Dis veelseggend omdat daar in die verlede bevind is dat die metabolisme aangewakker word wanneer die kilojoule-inname verlaag word, en dit lei tot ’n langer leeftyd.

Maar dis moeilik vir mense om met aansienlik minder kos klaar te kom; dus kan die keuse om proteïene vir gesonde koolhidrate uit te ruil, nuttig wees.

Die voorbehoud is dat die proteïene van ’n hoë gehalte moet wees, kosse soos witvleis, soja en eiers, terwyl die koolhidrate afkomstig moet wees van vrugte en groente, heelgraansoorte en peulgroente.

Dit sal jou dus glad nie loon om roosterbrood te maak van ’n hele witbrood en dan daardeur te worstel nie.

In die geval van die muise is daar bevind dat hierdie manier van eet dieselfde voordele rakende bloedsuiker- en cholesterolvlakke getoon het as waar die kilojoules met 40 persent in die dieet verminder is.

Dit was ten spyte daarvan dat die knaagdiere in werklikheid meer geëet het omdat hulle metabolisme vinniger was. Hulle het ook geen gewig aangesit nie.

“Dit is nog steeds ’n voldonge feit dat ’n vermindering van voedselinname en gewig die metaboliese welsyn verbeter en die risiko op tipe 2-diabetes, vetsug en lewersiekte verlaag,” het die navorser dr. Stephen Simpson gesê in die bevindings wat in die tydskrif Cell Reports gepubliseer is.

“Volgens hierdie data van die muise en navorsing by mense blyk dit dat wanneer ons matige hoeveelhede hoëgehalte-proteïene en groot hoeveelhede gesonde koolhidrate by ons dieet insluit, ons gesondheid daarby sal baat vind wanneer ons ouer word.”

© Cover Media