Nee, jy het nie verkeerd gehoor nie: Self kos maak kan jou regtig help gewig verloor.

’n Onlangse ondersoek aan die John Hopkins-universiteit (JHU) toon mense wat etes tuis berei, is gewoonlik maerder as dié wat dit nie doen nie.

Die navorsers het bevind mense wat in hul eie kombuis aandete berei, neem gewoonlik minder suiker en vet in. Hulle eet trouens sowat 590 minder kilojoules per dag as mense wat meestal uiteet. Selfs al was die porsies soortgelyk, was die suiker- en vetinhoud van tuisgemaakte etes steeds oor die algemeen laer.

Die probleem met restaurantmaaltye en verpakte kos is, jy het geen beheer oor dit wat daarin gesit word nie. Maar kook jy tuis, kan jy vars bestanddele kies en let op hoeveel sout jy gebruik.

’n Silwer randjie wat jou dalk sal aanspoor om ’n voorskoot aan te trek: Selfs al maak jy geregte wat jy in ’n restaurant sal bestel, bespaar jy dikwels kiloujoules, vet en suiker.

“Ek het ’n dekade in restaurante gekook en restaurantkos kan baie vette bevat – soos botter, olie en room – en ook sout en suiker,” verduidelik Julia Wolfson van JHU se Bloomberg-skool van Openbare Gesondheid. “Veel meer as wat tuiskokke gewoonlik by hul kos voeg.”

Sy voeg by diepvetbraai is baie algemeen in restaurante, maar veel minder in mense se huis.

Die gewoonte om jou eie maaltye te kook kan jou ook ’n algeheel gesonder mens maak. Die ondersoek toon mense wat by die huis kook, kies dikwels kos met minder kilojoules as wanneer hulle uiteet. Die rede is onduidelik, maar ’n moontlike verklaring is dat jy bewustelik is terwyl jy kook en dit jou oplettender oor jou algemene dieet maak.

Het jy nog oortuiging nodig? Eerstens sal jy geld bespaar. Dit hoef ook nie tydrowend te wees nie. Maak iets soos ’n groenteroerbraai of kerrie en vries dan porsies daarvan. So hoef jy nie na ’n gekoopte mikrogolfmaaltyd te gryp wanneer jy die slag nie lus het om self kos te maak nie.

© Cover Media