As jy jou aandete voor die televisie nuttig of terwyl jy jou selfoon of iPad gebruik, kan die kilogramme toeneem.

So word aangevoer in die jongste navorsing om die negatiewe uitwerking te bepaal wat die gebruik van ’n slimfoon of tablet op die alledaagse lewe kan hê. In ander onlangse studies word beweer apparaatjies kan die geheue deurmekaarkrap en hulle kan ook veroorsaak dat jy sleg slaap.

'Mense wie se aandag deur tegnologie afgetrek word, is meer geneig om op die ou end te peusel.'

Hierdie keer is die televisiestel egter die sondebok. Navorsers van die Universiteit van Birmingham het bevind mense wie se aandag deur tegnologie afgetrek word, is meer geneig om op die ou end te peusel.

Dit het alles te doen met die rol wat ons herinnering aan onlangse maaltye in ons aptyt speel. Dit beteken as ons nie konsentreer op wat ons eet nie, kan ons brein dalk nie die ete onthou nie; daarom is dit moontlik dat ons makliker die peuselkos sal nader trek.

Altesaam 99 jong vroue wie se gewig normaal was, het aan die studie deelgeneem. Hulle is in drie eksperimentele groepe ingedeel: ’n hoë-afleidingsgroep, ’n lae-afleidingsgroep en ’n geen-afleidingsgroep.

Elke deelnemer het dieselfde middagete van 1 674 kJ gekry. Die kos is volgens ’n vasgestelde orde aangebied en aan elke vrou is gesê sy moet alles opeet.

Die hoë-afleidingsgroep moes ’n rekenaarspeletjie speel terwyl hulle eet en daar is aan hulle gesê hulle sal geld kry as hulle goed vaar.

Die vroue in die lae-afleidingsgroep moes die speletjie sonder enige aansporing speel, en die geen-afleidingsgroep het net geëet.

Elke groep het later toegang gehad tot koekies. Die navorsers het gekyk na hoeveel geëet is en bevind daar was ’n opmerklike verskil tussen die groepe: die hoë-afleidingsgroep het 69 persent meer en die lae-afleidingsgroep 28 persent meer gepeusel as die geen-afleidingsgroep.

Daarna moes 63 ander mense ’n ander taak uitvoer. Hierdie keer het deelnemers in die afleidingskategorie sop en brood as middagete gekry terwyl hulle televisie kyk. Die feit dat hulle aandag afgetrek is, het weer meegebring dat hulle later 19 persent meer koekies verorber het.

?Afleiding terwyl jy eet, verhoog die inname van peuselgoed agterna. As jy egter op jou kos konsentreer, is die inname van peuselgoed agterna minder,” het die navorsers gesê.

?Die resultate dui daarop dat aandagtige etery van waarde kan wees om aptyt te beheer,” het die navorsers afgesluit.

Die bevindings is in die tydskrif Appetite gepubliseer.

© Cover Media