’n Groot groep mense is gemonitor en daar is gevind dat diegene wat die twee middels saam drink, ’n ongeveer vier keer hoër risiko loop om binneskedelse bloeding op te doen as dié wat net antidepressante drink. Binneskedelse bloeding is bloeding op die brein, en dit kan tot ’n noodlottige beroerte lei.

Navorsers in Suid-Korea het 4 miljoen mense ondersoek wat antidepressante vir die eerste keer gebruik het. Nie-steroïdale anti-inflammatoriese middels (NSAIMs) – pynstillers wat aspirien en ibuprofen insluit – wat gedrink word om probleme soos rugpyn en artritis hok te slaan, is meer geneig om breinbloeding te veroorsaak as ander opsies vir die verligting van pyn.

Die kenners het opgemerk aangesien chroniese pyn dikwels depressie aanwakker, dit nie ongewoon is dat mense medikasie gebruik om hul simptome te verlig nie. Hulle waarsku dat dokters meer waaksaam behoort te wees oor die moontlike gevolge en dus eers vir pasiënte behoort te vra of hulle antidepressante drink.

“Indien pasiënte albei hierdie middels saam drink, moet daar spesiale aandag daaraan gegee word,” het die navorsers van die Korea Instituut vir Middelveiligheid verduidelik.

Boonop is NSAIMs reeds aan maagbloeding verbind as dit saam met antidepressante geneem word.

“Wat nog meer kommer wek, is dat kwale wat NSAIMs sowel as antidepressante vereis, gewoonlik gelyktydig voorkom - 65 persent van volwassenes met depressie ly ook aan chroniese pyn. Ek dink dit is belangrike inligting wat aan huisdokters oorgedra behoort te word. Ons moet seker maak mense weet daar bestaan ’n risiko,” het prof. Jill Morrison van die Glasgow-universiteit en haar kollegas van die Cambridge-universiteit in ’n ingeslote werkstuk opgemerk.

“Hoewel die risiko gering is, bly dit ’n risiko en dit geld nie net vir voorgeskrewe pynstillers nie, maar mense drink moontlik ibuprofen of aspirien of iets soortgelyks wat hulle oor die toonbank koop.”

Die uitslae is in die British Medical Journal gepubliseer.

© Cover Media