Daar is baie dinge wat tussen jou, jou maat en ’n nag van passie staan. Dalk is julle albei moeg ná ’n lang dag by die werk of voel jy te opgeblase ná ’n groot maaltyd of dalk verkies jy om te gaan loer wat op Facebook gebeur.

Dis presies hoe ’n getroude vrou gevoel het wat aan die studie deelgeneem het. Navorsers het diepte-onderhoude met deelnemers by die Universiteit van Durham gevoer. Volgens die bevindings het 40 persent van mense erken dat hulle al nee gesê het vir seks om ’n vinnige teksboodskap te stuur, ’n oproep te maak of iets op die internet te gaan kyk. Ander het seks afgerammel sodat hulle hul boodskappe kon stuur, en ’n derde van die mense het selfs die foon tydens die seksdaad beantwoord.

'Talle paartjies laat toe dat hul katoeters soos die derde persoon in hul verhouding word.'

“Ek is soms op Facebook en hy is besig met ’n sport-app terwyl ons in die bed is; ons besef dat ons langs mekaar sit, maar leef in verskillende wêrelde,” het ’n vrou vertel.

Dr. Mark McCormack, die navorser wat die onderhoude met 15 paartjies gevoer het, glo tegnologie in die slaapkamer kan ’n “ernstige” uitwerking hê. Maar daar is darem nie net slegte nuus nie; katoeters kan mense ook help in die slaapkamer. Meer as ’n kwart van die paartjies het al hul intiemste oomblikke verfilm, en 40 persent het al vir mekaar stoute foto’s gestuur.

’n Maklike reël om te volg as jy dit wil vermy dat jou foon en tegnologie jou skelmpie raak, is bloot om die toestelle uit die slaapkamer te verban. Beantwoord e-posse, teksboodskappe en oproepe voor slapenstyd. Dit sal nie net die intimiteit met jou maat ’n hupstoot gee nie; jy sal ook meer slaap inkry, aangesien daar in vorige studies bewys is dat die blou lig van toestelle soos iPads jou slaap kan versteur.

© Cover Media