Jy kan nou wel die springerigste hasie in die gim wees en sewe dae per week net goeie kos eet, maar jy kan soms net nie daardie gevreesde opgeblaasde of geswolle buik systap nie.

Dr. Ayesha Akbar, gastroënteroloog by die St. Mark’s-hospitaal in Londen, het die oorsake van daardie ongemaklike gevoel van ’n opgeblaasde of geswolle buik uitgewys.

Lees verder en vind uit hoekom jou maag moontlik opswel.

Inflammatoriese ingewandsiekte (IIS)

“Inflammatoriese ingewandsiekte is ’n chroniese inflammatoriese siekte van die dermkanaal en dit sluit Crohn Se Siekte en swerende kolitis in.

Die vernaamste simptome is diarree, bloed in die stoelgang, maagpyn en gewigsverlies,” het Ayesha aan Cover Media verduidelk en bygevoeg dit kan lei tot opgeblaasdheid. Die rede hiervoor is dat die gas in die ingewande vasgevang word. Lyers aan IIS kan ook swelling ondervind as hulle letselweefsel (vergroeiings) het weens vorige operasies.

Ontwatering

Volgens Ayesha kan die moontlikheid van buikswelling verlaag word as jy baie water drink.

“Die rede hiervoor is dat ontwatering en elektrolietwanbalanse vertering kan stuit, want as jou liggaam die uitwerking van ontwatering probeer herbalanseer, klou dit vas aan oortollige water,” was haar verduideliking.

Prikkelbare-dermsindroom (PDS)

“Hoewel die derms en ingewande van iemand met PDS normaal voorkom (in teenstelling met IIS waar ’n mens die ontsteking kan sien), beteken dit nie die spysverteringstelsel werk normaal nie,” het Ayesha uitgewys. PDS word veroorsaak deur ’n verlies aan koördinasie in die senuwees van ons spysverteringstelsel. Hoewel niks fout is met die bou van PDS-lyers se senuwees nie, makeer die werking daarvan wel iets. Die siekte word gekenmerk deur hardlywigheid en/of diarree, swelling en maagpyn.

Hardlywigheid

Dit is een van die voor die hand liggendste oorsake van buikswelling en jou maag voel dikwels hard. Oorsake is onder meer te min vesel in die dieet, te min water, gebrek aan oefening, die newe-effekte van medikasie en selfs stres.

Jy eet te vinnig

“Jy kan opblaas as jy te vinnig eet,” het Ayesha gesê. “Dan asem ons moontlik ’n klomp lug in. Op die ou end sit ons met ’n klomp gas, en as dit in ons maag sit, kan dit tot buikswelling lei.

Ander oorsake sluit in stres, slapeloosheid, hormoonveranderinge en kos-allergieë en gevoeligheid vir kos.

St. Mark’s-hospitaal het ’n nuwe instituut, die St. Mark’s-instituut vir Ingewandsiektes, gestig om navorsing, opvoeding en kliniese kundigheid in te span tot voordeel van mense wat met hul ingewande sukkel.

© Cover Media