Gesond bly kan so maklik wees soos tel tot by sewe.

Die Amerikaanse Hartvereniging glo al lank sewe stappe verminder jou kans op hartsiektes. In nuwe navorsing is nou bevind dié maatreëls kan ook kanker help voorkom.

Die sewe stappe is:

  1. Wees aktief.
  2. Handhaaf ’n gesonde gewig.
  3. Eet gesond.
  4. Hou jou cholesterol op ’n gesonde vlak.
  5. Hou jou bloeddruk laag.
  6. Maak seker jou bloedsuiker is nie hoog nie.
  7. As jy rook, hou op.

Vir die navorsing wat in die vaktydskrif Circulation gepubliseer is, is data oor 13 253 deelnemers ontleed. Dis oor 20 jaar ingewin.

Die navorsers het bevind dié wat ses of sewe van die stappe gevolg het, het hul kankerrisiko met die helfte verminder, vergeleke met die mense wat geen stappe gevolg het nie.

Nog goeie nuus is die kankerrisiko verminder trapsgewys vir elke bykomende faktor waaraan jy voldoen.

“Die studie dra by tot die groot hoeveelheid navorsing wat sê dis nooit te laat om gesonder te begin leef nie. As jy aanpassings doen, soos ophou rook of jou dieet verbeter, kan jy dus jou risiko vir hartsiektes en kanker verminder,” sê Laura Rasmussen-Torvik, die hoofnavorser.