Dalk is dit ’n goeie idee om van nou af liewer bloubessies en aarbeie pleks van graanvlokkies vir ontbyt te eet.

Die ondersoek het getoon ’n dieet met volop resveratrol kan mense help slank bly. Dié plantverbinding kom in bessies asook druiwe en wyn voor, maar moet dit liefs nie as ’n aanbeveling beskou om daagliks die voggies te laat vloei nie.

’n Span van die Staatsuniversiteit van Washington in die noordweste van Amerika het die navorsing uitgevoer waarin muise dieselfde hoeveelheid van die chemikalie gekry het as wat mense sou inneem as hulle 340 g bessies per dag sou eet.

Selfs al is hulle andersins ’n vetryke dieet gevoer, is bevind die knaagdiere weeg 40 persent minder as dié wat nie resveratrol gekry het nie.

Die verskil is veroorsaak deur die manier waarop die muise hul wit en bruin vet gebruik het. Bruin vet verbrand energie terwyl sy wit eweknie dit opgaar.

Aanvanklik is gedink net babas het bruin vet, maar dit is nou bekend volwassenes het dit ook, en skraler mense het meer daarvan. In perspektief gestel: 50 g bruin vet verbrand sowat 1 255 kilojoules in 24 uur; daarenteen kan 50 g wit vet dieselfde hoeveelheid kilojoules opgaar.

Die muise kon hul wit vet in bruin vet omskakel, wat beteken dit kon verbrand pleks van opgegaar word.

“Die polifenole in vrugte, resveratrol ingesluit, verhoog geen-uitdrukking wat die oksidasie van voedselvet verbeter sodat die liggaam nie oorlaai sal word nie,” sê prof. Min Du in die Journal of Obesity.

“Dit skakel wit vet in bruin vet om wat lipiede (vette) as hitte verbrand, terwyl dit die liggaam in balans help hou en vetsug en metaboliese wanfunksie voorkom.”

Driehonderd en veertig gram vrugte is sowat drie porsies. Dit is dus ’n goeie idee om druiwe, appels of frambose by elkeen van jou drie maaltye per dag in te sluit.

© Cover Media