Dit is welbekend dat gesondheid en fiksheid jou lewensgehalte in jou later jare bepaal, maar het enigiemand al ooit gedink aan die groot rol wat jou gemoedstemming speel?

Aftrede word óf met oop arms verwelkom óf jy bekommer jou en raak paniekerig by die gedagte aan hoe jy by jou nuwe lewe gaan aanpas. Om die beste uit jou vrye tyd te haal moet jy besig bly en nie toelaat dat die leë dae angswekkend begin lyk nie.

As jy skielik aan niemand meer verantwoording hoef te doen nie, kan dit ’n groot skok vir die liggaam wees – en dit nadat jy sp lank in ’n betrekking gestaan het wat dalk lonend was en waar jy bruikbaar was. Dit is dus miskien nodig om jou voor te berei op aftrede. Sir Muir Gray, oudhoof van kundigheid by die Nasionale Gesondheidsdiens, beveel opleiding ten opsigte van voor-aftrede aan. Dit kan beteken dat jy ’n deeltydse werkie aanvaar om ’n paar uur van die dag te vul en die res van die dag doen jy dan wat jy wil. Volgens Muir het navorsing getoon dat jy baat vind by gereelde wisselwerking tussen jou en ander mense. Dit help ook jou verstand aan die gang hou.

'Wanneer jy nie besig is om na ander mense se behoeftes om te sien nie, moet jy vir jouself sorg.'

Hoekom bied jy nie aan om vrywillig in ’n liefdadigheidswinkel te werk of om te help by die een of ander plaaslike stigting nie? Onthou: as jy ’n pensioen het, is geld miskien nie die belangrikste oorweging nie. Jy kan ook ’n beskeie werk doen wat finansiële voordele het, soos om byvoorbeeld elke paar dae ’n paar uur lank in jou plaaslike afdelingswinkel te werk.

Wanneer jy nie besig is om na ander mense se behoeftes om te sien nie, moet jy vir jouself sorg. Jy kan nou jou stokperdjie beoefen of, as jy nog nie een het nie, kan jy iets nuuts aanpak.

Die moontlikhede is legio, en dit is ’n uitstekende manier om nuwe mense te ontmoet, mense met dieselfde belangstellings as jy of wat hulle in dieselfde bootjie bevind as jy: afgetree.

Ongelukkig kom depressie kom baie voor by mense bo 70. Die oorsaak van baie van dié gevalle is óf eensaamheid óf gesondheidsprobleme. Dit is nog ’n rede waarom daar klem gelê word op die feit dat dit belangrik is om uit te reik na ander mense en die beste uit jou lewe te haal. Dit kan ’n geval wees van: hoe meer jy by ander mense betrokke raak, hoe beter voel jy oor jouself.

Moenie aarsel om hulp te soek as jy mediese beperkings het wat jou verhoed om dit te doen waarvan jy hou nie. Maak seker jou familie is bewus van jou posisie en gevoelens. Daar is egter ook plekke waarheen jy kan uitreik vir geselskap as jy nie deel is van ’n groot familie nie.

© Cover Media