Om jou af en toe te bederf sal nie veel skade aanrig nie, maar nadat jy hier gelees het, sal jy dalk twee keer dink voor jy ’n paar keer per week aan klaargaar maaltye weglê.

Dr. Sameer Patel, ’n voorste tandarts van die Elleven-praktyk in Harley Street in Londen, Brittanje, onthul wat in die gewildste wegneemkos skuil.

Eerste op die lys is Chinese en Indiese kos, wat jou tande kan vlek. Dis die kerriepoeier wat dit doen, want die donker pigmente kan aan emalje kleef en die skakering drasties verander. Die donker vloeistowwe, soos sojasous, wat as geurmiddels gebruik word, het dieselfde uitwerking en kan jou ’n redelik onaansienlike glimlag gee.

Sameer vergelyk die verandering met vlekke op ’n wit T-hemp. Alles wat ’n merk aan die top sal los, sal dieselfde uitwerking op jou tande hê. Hy stel voor jy eet spinasie of broccoli aan die begin van jou maaltyd om ’n beskermende lagie oor jou tande te laat vorm en te voorkom dat dit verkleur.

Sekere kosse kan ook jou kaak benadeel en in hierdie geval is sosaties die grootste sondebok. Wanneer jy die vleis kou, kan dit jou mond effens laat pyn. Taai kosse kan jou kaak laat oorwerk en moontlik beseer.

“Enige oorgebruik van ’n stel spiere kan mettertyd lei tot saamgetrekte spiere en verwante pyn, insluitend hoof- en tandpyn,” het Sameer aan MailOnline verduidelik.

’n Maklike manier om dit te vermy, is om sagter produkte te kies, of as jy dol is oor sosaties kan jy dit dalk in kleiner stukke sny en nie so hard kou wanneer jy dit eet nie.

Vis en skyfies is dalk smaaklik, maar dit kan tot tandbederf lei as jy nie versigtig is nie. Omdat dit so baie stysel bevat, is daar ’n groter kans dat stukke tussen jou tande en holtes kan vassit, waar dit later in suiker omskakel en verrot. Ook die bygevoegde suiker in die maaltyd kan tot bederf lei en Sameer sê waarvoor jy op die uitkyk moet wees.

“Suiker kan in baie verskillende vorms voorkom en die beslag aan die vis en verwante souse soos tamatiesous is sondebokkke vir ’n hoë suikerinhoud,” verduidelik hy.

Om jou mond met water uit te spoel, sal kosstukkies tussen jou tande help loskom en die kans op bederf help verminder.

Laaste maar nie die minste nie: pizza. Wit pizzabasisse laat dalk nie jou tande verrot nie, maar dit is vol verfynde koolhidrate, wat eenvoudige suikers bevat. Dit veroorsaak ’n skielike styging van suur in die mond omdat dit so vinnig oplos. Saam met die suurheid van die tamatiebasis kan ’n pizza jou mond supersensitief maak. En, soos hier bo genoem, kan van die deeg in gapings vassit.

Vlos gereeld om van enige agtergeblewe kos ontslae te raak en kou deur die dag suikervrye kougom.

© Cover Media