Ons weet kinders en bruiskoeldrank is nooit ’n goeie kombinasie nie; dit kan allerhande gevolge hê soos opgewondenheid en hiperaktiwiteit. Maar toe die Monell Chemical Senses Center in Philadelphia navors hoe kinders suiker registreer, was die resultate verstommend.

Pleks dat die neiging tot vetsug hoër was by kinders wat drie teelepels suiker in water nodig gehad het voor hulle dit kon proe, het die navorsers ontdek kinders wat slegs 0,005 teelepel suiker in 30 ml water kon proe, was meer geneig om oorgewig te wees. Die groep het ook ’n spesifieke gene-variasie getoon wat bekend is dat dit ontvanklikheid vir bitter smake aanwakker.

Altesaam 216 gesonde kinders van sewe tot 14 jaar oud se reaksies is gemonitor terwyl hulle water en sukrose (suiker) in hul mond rondspoel. Hulle is daarna gevra om terugvoer te gee.

Hul gewig is aangeteken en daar is ook na hul DNS gekyk om ooreenkomste te vind tussen dié wat sensitief was vir die oplossing.

“Toe ons die studie aanpak, het ons gedink die kinders wat baie onsensitief vir suiker was, sou dié met ’n neiging tot vetsug wees aangesien hulle meer suiker sou benodig om dieselfde uitwerking te kry,” het dr. Danielle Reed, die hoofskrywer, opgemerk. “Maar ons het in werklikheid die teenoorgestelde gevind: Die vetsugtige kinders was sensitiewer.”

Die bevindings gaan in die tydskrif Nursing Research gepubliseer word. Hoewel daar tans geen verklaring is vir die bevindings nie, het deskundiges opgemerk die moontlike rede kan wees dat suiker net so ’n sterk uitwerking op ander organe in die liggaam het as wat dit op ons tong het. Nog ’n rede is dat suiker ’n ander rol speel in die biologie of metabolisme van die kinders wat op kleiner dosisse reageer.

Kinders is sensitiewer vir soetigheid as volwassenes, en die skrywers van die studie het ’n boodskap aan ouers: As kinders meer suiker by hul kos voeg, is dit nie altyd met opset nie.

“Die eintlike boodskap is dat kinders regtigwaar verskil wat hul sensitiwiteit vir suiker betref,” voeg Danielle by. “Ouers kan moontlik hewig ontsteld raak wanneer hul kinders baie suiker byvoeg of wanneer hulle baie suiker in kos wil hê, maar party kinders is taamlik onsensitief vir suiker, dus kan dit bloot wees dat hulle suiker byvoeg om dit te kan proe.”

© Cover Media