Water is die kern van amper elke gesonde eetplan. Ons almal weet ons moet elke dag genoeg water drink.

Volgens sekere riglyne het vroue selfs tot sowat 1,6 L water per dag nodig en mans 2 L (dis agt glase vir vroue en10 vir mans), hoewel drie tot vier vir albei geslagte voldoende behoort te wees. Dis belangrik om genoeg vloeistof in te neem sodat jou liggaam goed kan funksioneer. En onthou ook om meer water te drink wanneer dit warm is of jy baie oefen.

Dit is alles goed en wel, maar soms kan dit na ’n las voel om water te drink. En om stroop vol suiker daarby te voeg, verydel die doel om gesond te leef. Maar daar is gesonde maniere om water smaak te gee:

Suurlemoen

Waarskynlik een van die bekendste maniere om ’n glas water interessanter te maak, is om ’n bietjie suurlemoen by te voeg. Baie mense drink soggens heel eerste ’n beker warm water met suurlemoen daarin, want dit wakker jou spysvertering aan en spoel gifstowwe uit. Die vrug bevat baie vitamien C, wat ook goed is vir jou immuunstelsel en dit balanseer die pH-vlakke in jou liggaam.

Kruisement

Dit kan met suurlemoen gemeng word of alleen bygevoeg word, afhangende van jou voorkeur. Nes suurlemoen, is dit goed vir vertering. Dit kan ook slegte spysvertering, naarheid en hoofpyn help streel. Kruisement is ook ’n natuurlike stimulant – as jy traag voel of opsien teen die dag wat voorlê, kan dit jou ’n hupstoot gee.

Gemmer

As jy spysverteringsongerief ervaar, is gemmer nommerpas vir jou. Jy kan dit by koue water rasper of van die wortel kook vir ’n warm drankie. Maar wat jy ook al doen, onthou ’n bietjie daarvan gee baie geur. Dis ook goed vir mislikheid en het antioksidante en teenontstekingskenmerke.

Kaneel en appel

Kaneel het ’n magdom gesondheidsvoordele. Dit help vermoedelik vir prikkelbaredermsindroom, die beheer van bloedsuiker en die behoud van gewig. Jy gebruik natuurlik net ’n bietjie om water te geur. Maar as jy ’n paar skywe appel byvoeg, sal jy ’n verfrissende drankie hê wat ook heerlik ruik.

Peperment en pomelo

Dis ’n minder bekende kombinasie, maar uitstekend as jy van opgeblasenheid wil ontslae raak of jou niere wil reinig. Boonop kan dit jou vel ook helderder laat lyk. Maak dit deur die skywe van ’n halwe suurlemoen en ’n halwe lemmetjie en die segmente van ’n halwe pomelo in 2 L water te sit. Skep ’n bietjie gekapte komkommer en ’n teelepel gemmer by en rond dit met pepermentblare af.

© Cover Media