Dr. Charles Spence, ’n professor aan die Universiteit van Oxford, ondersteun ’n nuwe soort wetenskap bekend as gastrofisika wat die multisensoriese invloede bekyk wat teenwoordig is wanneer ons eet. Hy het van die wenke met MailOnline gedeel oor hoe jy jou koservaring kan verbeter.

Hy glo sjefs moet ewe veel hul klante se verbeelding as hul tong met hul skeppings bevredig. In sy boek The Perfect Meal verduidelik hy dat meer as die helfte van die genot wat mense ervaar wanneer hulle eet, kom van die verrassingselement en atmosfeer.

Om dié teorie te rugsteun het hy ’n studie van 3 000 mense wat wyn geproe het, by die boek ingesluit. Tydens sy proefneming is deelnemers ’n glas witwyn gegee en hulle is terugvoer gevra. Toe die beligting en musiek verander is en hulle weer die wyn aangebied is, was daar ’n toename van 20 persent in positiewe reaksie.

“Dieselfde kos en drank onder verskillende omstandighede proe heeltemal anders,” sê Charles. “Soms het dit waarvan ons onbewus is, ’n groter uitwerking as dit waarvan ons bewus is.”

Hy het ook opgemerk dat groter spyskaarte met meer keuses voordelig is omdat klante dan hul ideale ete kan kies. Wanneer jy dus volgende keer gaan uiteet met vriende, kies ’n plek met hope opsies. Charles glo as daar minder etes aangebied word, voel mense ingeloop en ongemotiveerd en dis mos nie hoe jy ’n eetervaring moet begin nie.

Hy sê ook jy sal tevrede voel as jy eerste bestel. “Jy bestel dit wat jy instinktief wil hê, wat beteken jy sal dit meer geniet.”

Hy glo ook jou kos en drank moet by jou musiek pas. Byvoorbeeld, hoëfrekwensie-liedjies kan jou nagereg soeter laat proe, terwyl snitte met laer note bitterheid kan verbeter.

Behalwe wenke oor hoe jy jou kos meer kan geniet, sê Charles ook ’n mens is meer geneig om gewig te verloor as jy kos uit ’n rooi bord eet. Hy raai ook mense wat ’n dieet volg aan om nie televisie te kyk terwyl hulle eet nie.

“Rooi is ’n primitiewe gevaarteken, maar dit verleen ook minder kontras aan die kos, wat dit minder begeerlik laat lyk; dus sal dit veroorsaak dat jy minder daarvan eet,” sê hy.

“En as jy televisie kyk terwyl jy eet, sal jou brein so betrokke wees by wat op die kassie aangaan dat dit die seine sal ignoreer wat jou daaraan herinner dat jy genoeg geëet het.”

© Cover Media