Dr. Nitin Seetohul, ’n chemiese ontleder en forensiese gifkundige aan die Nottingham Trent-universiteit, het aan MailOnline verduidelik chloor is voordelig wanneer dit bakterieë in water vernietig en het siektes soos ingewandskoors en cholera in meer ontwikkelde lande help uitwis. Teen lae vlakke in drinkwater (die aanbevole inhoud is een deel in ’n miljoen) is dit nuttig, maar die probleme begin wanneer jy twee tot vyf dele byvoeg om swembadwater skoon te hou.

Chloor is met asma by kinders in verband gebring in ’n Belgiese ondersoek in 2008 wat in die vaktydskrif die European Respiratory Journal gepubliseer is. Die navorsing het getoon dat kinders wat een keer per week in ’n swembad geswem het, meer geneig was om aan asma te ly as dié wat nooit in ’n swembad geswem het wat met chloor behandel is nie. Kinders het vermoedelik ’n groter risiko omdat hulle rondplas en meer water insluk. Hulle bring ook gewoonlik langer tydperke in die swembad deur as volwassenes.

“Hoewel nog navorsing nodig is, word vermoed dat wanneer chloor en sy neweprodukte ingeasem of ingesluk word, dit selversperrings in die longe kan aanval wat dit teen allergene beskerm,” sê dr. Andrew Wright, ’n professor in dermatologie aan die Universiteit van Bradford.

Chloor het nog kommerwekkende resultate getoon. Andrew onthul net verlede maand is 33 mense wat die Wild Duck-vakansieoord naby Great Yarmouth in Engeland besoek het na die hospitaal gebring nadat hulle per ongeluk ’n oordosis chloor ingekry het. Dit het gelei tot naarheid, asemhalingsprobleme en tranerige oë.

Andrew meen ander metodes moet ingespan word om swembaddens skoon te hou, soos osoonfiltrasie. Dit is wanneer suurstof in die vorm van osoon deur die water gepomp word voor dit gefiltreer word.

“Dis hierdie giftige neweprodukte (chloramine) wat die kenmerkende ‘bleikmiddel’-reuk afgee wat ons met swembaddens assosieer en probleme veroorsaak,” sê Andrew. Hy voeg by wanneer die neweprodukte gekombineer word met die afval wat in swembaddens voorkom, soos veldeeltjies en lyfolies, kan probleme voorkom.

Hy beveel aan jy was chloor af sodra jy uit die swembad klim om die kans vir gesondheidsprobleme te verklein.

Cover Media