Voel jy tam, oorweldig en vreesbevange vir hierdie laaste byna agt weke van die jaar. Dit raak ál moeiliker om te konsentreer op jou alledaagse lewe, oefening en werk. Baie van ons dink al ver vooruit na volgende jaar – en raak nog meer oorweldig en angstig.

Die einde-van-die-jaar-sindroom is ’n werklikheid en word dikwels gekenmerk deur uitputting en moegheid, veral in November en Desember, sê dr. Hermann Liebenberg, sielkundige van Centurion.

 

Onthou dat die hoë druk nie vir altyd aanhou nie en dat vir die meeste ’n blaaskans en vakansie iewers in die nabye toekoms voorlê, voeg hy by.

“Maar wees voorbereid op die vakansietyd aangesien dit nie vreemd is nie dat mense aan die begin daarvan veral hier teen die einde van die jaar, geneig is om ‘siek’ te raak.”

Hierdie vreemde verskynsel is volgens hom al goed gedokumenteer en word gekenmerk deur hoofpyne, skeelhoofpyne, spysverteringsprobleme en ander siektetoestande wanneer ’n persoon van ’n hoëdrukstelsel (werkuitputting) skielik beweeg na ’n rusperiode of ’n laedrukstelsel, vertel Hermann.

 

Gun jouself, jou lyf en jou brein daarom ’n paar dae om gewoond te raak aan die rustyd. As jy moeg is, slaap baie of haal in op die TV-reekse wat jy opgeneem het.

Soos die psigiater en neuroloog Viktor E. Frankl dit stel: “Wanneer ons nie meer die situasie kan verander nie, word ons uitgedaag om onsself te verander.”

Kenners gee hier raad oor hoe jy kan asemhaal tussendeur al jou verpligtings voor die vakansie en hoe jy ook die af tyd kan oorleef:

1. Dis belangrik om nie teen die stelsel (hetsy werk, skool of universiteit) te probeer veg deur minder te wil doen as gewoonlik nie, waarsku Hermann. “Die wedloop van die jaar is eers voltooi nadat jy jou bes gedoen het.”

2. Maak staat op jou ondersteuningstelsels en maak seker jy staan ander ook by. Deur ander te ondersteun, maak jy dit moontlik vir ander om jou te steun tot die einde van die jaar.

 

3. As jy ’n dokter, psigiater of sielkundige moet spreek, maak seker jy kry vroegtydig ’n afspraak om gehelp te word. Hierdie tyd van die jaar is baie besig vir mense in die gesondheidshulpsektor.

4. Vir diegene wat deur die feestyd moet werk, is dit waardevol om die geheelbeeld te sien en seker te wees dat die bydrae wat julle lewer, ’n suksesvolle afhandeling van ’n taak is, byvoorbeeld om, wanneer almal met vakansie is, ’n publikasie saam te stel of produk te vervaardig wat sommer dadelik die mark tref terwyl mense nog geld het.

Daar moet genoeg ander belonings ook wees, soos ekstra af tyd of ’n ekstra bonus. En dink net daaraan dat jy gaan vakansie hou wanneer dit stiller op die strande of in die berge is. En dis goedkoper buite seisoen. Omdat jy nou tot volgende jaar werk, spaar jy geld, wat rente kan verdien tot jou vakansietyd aanbreek.

 

5. Dink aan wat jy vanjaar bereik het en hoe ver jy ook gevorder het. Dikwels ontken ons die suksesse van ’n jaar en konsentreer op die negatiewe en teleurstellings, wat ’n ongunstige uitwerking het op die psige en emosionele gesondheid. Die keuse van dit waarop jy fokus, bepaal dikwels die gemoedstoestand waarmee jy ’n welverdiende vakansie gaan neem.

6. Gebruik die af tyd om jou krag te herwin en goed te wees vir jouself en diegene om jou, sê Hermann.

7. Emosionele uitbranding is ’n einde-van-die-jaar-probleem vir vele van ons, bevestig Elize Parker, ’n troostannie vir Huisgenoot-lesers en skrywer van motiveringsboeke.

“Maar met die besef daar is geen perfekte Desember nie, kan ons al verder kom as om onsself in ’n hoekie te gaan afsonder omdat ons nie kans sien vir die intense emosies wat met hierdie tyd van die jaar saamgaan nie.

Dit is tyd om veerkragtigheid op te bou teen Desember.

8. Dis makliker om jou angs te aanvaar as om dit te beveg. Wat daarmee help, is om jou gedagtes te verander. Vra jou af of ’n gedagte jou help of verhinder om voort te gaan.

Wanneer jy ’n slaaf van jou gedagtes is, is jou emosies dikwels onrealisties. Vra jou gereeld af: Is hierdie gedagte billik teenoor jouself? Indien nie, vervang die gedagte deur een wat jou angs wegneem.

 

9. Jy dink dalk byvoorbeeld jy sien net eenvoudig nie kans vir jou ouers oor Kersfees nie weens vanjaar se familiedramas. Om nie te gaan nie, gaan egter nog ’n groter krisis veroorsaak.

Die gedagtes help nie jou stresvlakke nie. Sê dalk liewer jy sien kans vir ’n familie-Kersfees, maar op jou voorwaardes: Jy gaan net inloer en jou tyd daar beperk. Sulke proaktiewe optrede teen angs is nuttig. Beplanning is jou beste wapen teen hierdie tyd van die jaar se spanning.

10. Intense emosies lei dikwels tot afsondering. Jy skep jou eie wegkruiptye. Leef soos ’n skilpad veilig in jou dop. Jy is net eenvoudig te moeg om ook nog kans vir mense te sien. Maar so sny jy jouself ook af van kragbronne.

Beplan om diegene te sien wat jou energie gee. Maak ’n lysie van almal wat jou vanjaar gesteun het en sien hulle gereeld in dié tydjie; nie net ’n kuberkuier of SMS’e of eposse nie. Woorde op ’n skermpie, al is hulle hoe mooi of al word hulle hoe goed bedoel, versterk niemand se hart soos ’n kuiertjie van aangesig tot aangesig nie. Daar lê baie onuitgesproke troos in ’n ander se liggaamstaal tydens ’n gesprek.

11. Sien ook diegene vir wie jy dankie wil sê vir die klein en groot oomblikke van vanjaar. Dankbaarheid is ’n genesende emosie en skep hoop. Bou sulke hoopfabrieke orals in jou lewe wat jou met reserwekrag toerus. Daar is emosionele vampiere in ons almal se lewe. Desember is nie die tyd om hulle te sien nie, waarsku Elize.

 

12. As jy voel jy moet die einde van die jaar “oorleef” beteken dikwels dat jy herinner word aan persone en verhoudings waaraan jy voel jy dringend aandag moet gee, sê Jacques H. Botes, ’n geregistreerde maatskaplike werker in privaat praktyk.

Jy wou dalk konflikte opgelos het met hierdie verhoudings, maar jy het net nie tyd daarvoor gekry nie. Daar was die afgelope jaar beslis spyt en verliese. ’n Beginpunt is om bewus te raak van hierdie “ou denke”. Dis onproduktiewe gedagtes en gaan jou net rem daarin om die einde van die jaar met sukses aan te pak.

Laat dit gaan. Dis nie nou die tyd om daarop in te haal nie. Dit kan dalk ’n Nuwejaarsvoorneme wees, stel Jacques voor.

13. Maak nou al seker jy het volgende jaar genoeg “power breaks”; vakansietyd versprei deur die jaar waartydens jy heeltemal afskakel van dit wat by die werk aangaan, is Hermann se raad. Dit help baie om uitbranding weens die hoër as gewoonlik ladings hier teen die einde van die jaar te bestuur.

14. Maak seker dat jy jou doelwitte vir die volgende jaar behoorlik stel wanneer jy ’n blaaskans het en waak daarteen om onrealisties te wees in jou beplanning. Ongeag of jy Nuwejaarsvoornemens het of nie, is dit dikwels beter om nie te veel tyd af te staan aan doelwitte vir die volgende jaar nie en tyd in te ruim voor jy jou werk in die nuwe jaar hervat.

 

Wees liefdevol en sagkens met jouself hierdie tyd van die jaar: na liggaam, gemoed en siel, stel Dana Tadmor, ’n berader van Kaapstad, voor.

Liggaam

1. Gereelde oefening en stappies deur ’n park, langs die see en in die berge. Jy moet die oefening wat jy doen, geniet; dit moenie voel soos nog ’n taak in jou besige program nie.

2. Eet gesond om jou energievlakke hoog te hou en jou verstand gefokus. Hongerpyne lei jou aandag af. Moet jouself ook nie in hierdie tyd te veel kasty nie en eet af en toe ’n blokkie sjokolade of ander lekkerny.

3. Drink genoeg vloeistof, minstens 1,5 L water per dag.

4. Kry genoeg slaap (minstens seweuur elke nag) en probeer om elke aand dieselfde tyd te gaan slaap.

5. Vermy oormatige drank of koffie. Geen dwelm-en-drank-gefuif nie. Dit neem baie kosbare tyd in beslag om daarvan te herstel. Wees veral versigtig op kantoorpartytjies.

 

Gemoed

1. By die werk, doen soveel as wat jy kan dat jy nie naweke of saans daaroor hoef te stres nie.

2. Werk gewone ure en moenie meer as nege uur aaneen werk nie.

3. Vat af oor die etensuur, want dit maak jou meer produktief die tweede helfte van die dag.

4. Maak werk van probleme met jou kollegas, vriende, lewensmaat en familie aan. Dis nie goed vir jou gemoedstoestand om bitter te wees nie.

5. Prioritiseer jou werk, familie en sosiale verwagtings.

6. Maak ’n lys van vyf belangrike take wat jy teen einde vanjaar wil afhandel. En merk hulle een-een af.

7. Vat elke dag op ’n slag en moet jou nie bekommer oor môre of volgende jaar terwyl jy nou besig is om take vir vandag af te handel nie.

8. Benader die feestyd met realistiese verwagtings met betrekking tot jou geldsake en familieverpligtinge.

9. Stel toepaslike perke wat kollegas, familie en vriende betref. So sal jy nie kwaad of gegrief voel of meen jy word nie met respek behandel nie. As jy nie die perke stel ten opsigte van die geld, tyd of energie wat jy moet deel tussen almal nie, gaan hulle die perke aan jou stel.

 

Siel

1. Kikker jou sekslewe op. Wees ’n avontuurlustige bedmaat.

2. Ruim tyd in om jou gedagtes te kalmeer deur joga en meditasie.

3. Waardeer die skoonheid wat jou omring. Gaan stap in die park, swem in die see of klim ’n berg.

4. Wees vrygewig teenoor mense wat minder as jy het, gee geld as jy kan vir liefdadigheid aan mens en dier. Dit hoef nie duisende te wees nie. Knyp geld af wat jy op aande uit of kuiersessies sou uitgee. Dit doen jou siel goed.

5. Maak weer kontak met “ou” vriende met wie jy baie lanklaas gepraat het.

6. Probeer om in die oomblik te lewe en elke dag te geniet.