Hierdie tyd van die jaar is daar gereeld nuus oor mense wat hul eie lewe neem. Soos die 22-jarige jong man wat vermoedelik van Tafelberg in Kaapstad afgespring het. Sy liggaam is Dinsdag gevind.

“Die vakansietyd belig goed wat in jou lewe verander het,” verduidelik die Johannesburgse sielkundige Christo van der Westhuizen. “As hierdie veranderings goed was – ’n opwindende nuwe werk, ’n huwelik, ’n nuwe baba – is daar spanning, maar dis positief.”

Maar as daar traumatiese verandering is, soos egskeiding of ’n sterfte in die familie, kan ’n vakansiebymekaarkoms jou ontstel. “Om dinge op te krop is nie ’n goeie idee nie en kan sake vererger,” voeg Christo by.

“Vir mense wat onlangs ’n geliefde verloor het of vir die eerste keer die feestyd alleen deurbring, kan dié tyd van die jaar of familiebyeenkomste baie spanningsvol wees,” waarsku Christo.

Intense emosies lei dikwels tot afsondering, sê Elize Parker, ’n troostannie vir Huisgenoot-lesers en skrywer van motiveringsboeke. “Jy skep jou eie wegkruiptye. Leef soos ’n skilpad veilig in jou dop. Jy is bloot te moeg om ook nog kans te sien vir mense. Maar so sny jy jouself ook van kragbronne af.”

Beplan om diegene te sien wat jou energie gee. Maak ’n lysie van almal wat jou vanjaar gesteun het en sien hulle gereeld in dié tyd; nie net ’n kuberkuier of SMS’e of e-posse nie.

Woorde op ’n skermpie, al is dit hoe mooi of al word dit hoe goed bedoel, versterk niemand se hart soos ’n kuiertjie van aangesig tot aangesig nie. Daar lê baie onuitgesproke troos in ’n ander se liggaamstaal tydens ’n gesprek.

depressie

Wie is vatbaar vir selfdood?

In lande met ’n hoër inkomste word selfdood gewoonlik met geestesversteurings, depressie en alkoholmisbruik verbind.

Dan is daar ook die impulsiewe optrede waar mense hulself om die lewe bring ná byvoorbeeld verbrokkelde verhoudings, chroniese siekte en finansiële probleme.

Ander faktore wat daartoe kan lei:

  1. Konflik
  2. Rampe
  3. Geweld
  4. Misbruik
  5. ’n Gevoel van isolasie
  6. Afknouery het so toegeneem, veral onder jong kinders, dat dit as een van die groot oorsake van selfdood onder kinders lei.

Kan dit verhoed word?

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie se verslag oor selfdood kan dit verhoed word deur ’n paar voorsorgmaatreëls te tref:

  1. Verminder toegang tot dit wat ingespan word as iemand hul eie lewe wil neem (plaagdoders, vuurwapens, sekere medikasie)
  2. Verantwoordelike verslaggewing deur die media
  3. Hersiene alkoholbeleid om die skadelike gebruik daarvan te verlaag
  4. Vroeë identifikasie, behandeling en sorg van mense by wie geestelike en afhanklikheidsteurings gediagnoseer is
  5. Lei nie-gespesialiseerde gesondheidswerkers op om selfdoodgedrag te kan evalueer en bestuur
  6. Opvolg-sorg vir dié wat reeds hul eie lewe probeer neem het.

Depressed

Raad vir depressie oor die Desembervakansie:

Cassey Chambers, bedryfsdirekteur van die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag), gee depressielyers raad oor die komende feestyd:

  1. Vra hulp en wees spesifiek. Mense is dikwels gewillig om te help as jy presies sê wat jy nodig het.
  2. Moenie langer êrens vertoef as wat jy wil nie. As jy weet jy het ’n plan om byvoorbeeld ’n partytjie tydens die feestyd te verlaat, kan dit angstigheid help verlig.
  3. Vergeet van die volmaakte geskenk. Moenie uit jou pad gaan op soek na die beste geskenk nie; dit plaas onnodige druk op jou.
  4. Stel ’n begroting op voor jy met Kersinkopies begin en hou daarby.
  5. Hou in die vakansie sover jy kan by jou gewone roetine, byvoorbeeld om dieselfde hoeveelheid slaap en nie te min of te veel nie, in te kry.
  6. Moenie te diep in die bottel kyk nie. Onthou, alkohol is ’n depressant, en as jy dit misbruik, gaan dit jou erger laat voel. Wees veral versigtig as jy medikasie neem.
  7. As jy medikasie neem, moenie ’n dosis oorslaan nie. Dit gebeur soms in die vakansietyd dat jy vergeet om elke dag jou medikasie te neem.
  8. Doen iets geesteliks, familiegerig of niematerialisties. As jy net ’n tiende minder aan geskenke bestee en daardie geld vir ’n goeie doel skenk, sal jy verbaas wees hoe goed dit jou laat voel.
  9. Los die familierusies, sluimerende vetes en ongelukkige verhoudings. Gee in die gees van die feestyd eerder iets kosbaars present – jou deernis en vergifnis aan diegene in jou lewe wat jy voel jou leed aangedoen het.
  10. Doen jou beplanning vroeër eerder as later. Te veel mense beland in die moeilikheid omdat hulle op die ingewing van die oomblik te veel beloftes maak om in die Desembervakansie by ’n klomp mense te kuier.
  11. Moenie die juk van skuld dra nie. As ’n skuldgevoel oor enigiets in hierdie tyd jou wil oorval, sê vir jouself:
  12. “Daar is volgende week genoeg tyd om skuldig te voel.” Doen dit gereeld, dan sal die skuldgevoelens jou nooit lamlê nie.
  13. “Nee” is nie ’n vloekwoord nie. Ons laat onsself dikwels in meer moeilikheid beland as waarvan ons bewus is omdat ons dit nie oor ons lippe kan kry nie om te sê: “Dankie, maar nee dankie.”

As jy steun nodig het, bel Sadag by 0800-33-33-77 of die tolvrye selfdoodhulplyn by 0800-12-13-14. Jy kan ook ’n e-pos stuur na info@anxiety.org.za.