Die hertogin van Cambridge gaan weer gebuk onder hyperemesis gravidarum, soos toe sy prins George (4) en prinses Charlotte (2) verwag het. En nee, sy is nie sommer net ’n opgepiepte en bedorwe brokkie wat nie die gewone mislikheid van normale swangerskap kan hanteer nie – die toestand met die mediese naam is inderdaad oggendnaarheid in sy ergste vorm.  

Prins William het onlangs gesê die koninklike huishouding kry nie nou veel slaap nie: “Ons kan eers begin opgewonde raak en dit vier wannneer Catherine oor die ergste eerste deel van die swangerskap is. Dis altyd erg aan die begin, maar dit gaan goed met haar.”

Oggendnaarheid, ’n toestand wat swanger vroue heeldag naar laat voel en/of laat opgooi, tas na beraming sowat sewe uit elke 10 vroue aan. Normaalweg verbeter of verdwyn dit heeltemal teen die 14de week van swangerskap, maar by sommige vroue duur dit langer en by ander neem die toestand ekstreme afmetings aan en staan dit bekend as hyperemesis gravidarum. Dit kan die hele swangerskap duur, maar van die simptome kan teen 20 weke begin afnaam.

Die oorsake van die erge naarheid is nie bekend nie, maar dit kom in families voor. Na beraming tas dit sowat een uit elke 100 vroue aan. Dis belangrik dat jy jou dokter of gesondheidswerker vertel indien jy dikwels naar raak en nie kos kan binnehou nie, want jy loop die gevaar om te dehidreer. Daar is middels wat die simptome kan verlig en jy moenie huiwer om hulp te vra nie.

Die simptome van hyperemesis gravidarum is:

  • Langdurige en erge naarheid en braking – sommige vroue gooi tot 50 keer per dag op.
  • Dehidrasie – jy het nie genoeg vloeistof in jou liggaam nie, want jy kan nie jou drankies binnehou nie; as jy minder as 500 ml vloeistof per dag drink, moet jy mediese hulp kry.
  • Ketose– ’n ernstige toestand wat lei tot die opbou van suurvormende chemikalieë in die bloed en urine; ketone word gevorm wanneer jou liggaam vet pleks van glukose afbreek vir energie
  • Gewigsverlies
  • Lae bloeddruk (hipotensie) wanneer jy staan

Hoewel dit 'n baie aaklige ervaring is vir die ma, sal hyperemesis gravidarum nie die ongebore baba skade aandoen indien die toestand behoorlik behandel word nie.

© Cover Media