Die weer bepaal dikwels of jy in jou etensuur binne bly, maar as jy te min buite kom, kan jou risiko vir gesondheidsprobleme soos hartvatsiektes, osteoporose en selfs kanker toeneem.

Navorsers by die Universiteit van Alberta in Kanada het ontdek die vitamien D-vlakke van 91 persent van die deelnemers wat by ’n lessenaar werk, was onvoldoende. Dié mense is net soggens en saans buite, en dan is die son se strale nie baie sterk nie. Sonder genoeg sonskyn sukkel die vel om die belangrikge vitamien te vervaardig.

Kantoorwerkers se vitamien D-vlakke is oor die algemeen twee derdes so hoog soos dié van tuiniers en ander mense wat buite werk. Minder as die helfte van hulle het te min van die noodsaaklike vitamien. 

Vitamien D help die tande en bene gesond hou, dit bevorder die werking van die immuun- en senustelsel en brein en dit help die hartvate en longe gesond hou.

“Ons resultate dui daarop dat beroep ’n belangrike faktor is wat kan bydra tot sub-optimale vitamien D-vlakke,” het die medeskrywer dr. Sebastian Straube gesê.

“Mense wat binnenshuis werk, bring ’n groot deel van hul werkure binne deur en het geen blootstelling aan sonskyn nie,” het die skrywers verder verklaar. Die resultate van hul ondersoek is in die tydskrif BMC Public Health gepubliseer.

“Binnenshuise werkers met konvensionele werkure kry waarskynlik soggens en saans blootstelling aan sonlig, maar die intensiteit daarvan is dan relatief laag.” 

As jy te min sonlig kry, kan jy darem meer vitamien C inneem deur byvoorbeeld weg te lê aan kos soos eiers, rooivleis en olierige vissoorte, alhoewel sonstrale verreweg die heilsaamste verskaffer is. Moet egter nie vergeet om sonroom aan te smeer nie, want jy kan steeds sonbrand opdoen.