Die Britse liefdadigheidsorganisasie Target Ovarian Cancer het as deel van sy jaarlikse Pathfinder-studie ’n steekproef onder byna 1 350 vroue gedoen en bevind net 20 persent van dié wat ondervra is, kon buikswelling as ’n simptoom van die siekte opnoem.

Die organisasie stuur dus tans ’n veldtog van stapel om die begrip van al die mees algemene simptome te promoveer. Dit sluit in buikswelling, maagpyn, moeite om te eet of ’n gevoel van versadiging, asook die behoefte om meer dikwels of dringend te urineer.

Volgens Annwen Jones, uitvoerende hoof van Target Ovarian Cancer, sterf te veel vroue nog omdat die siekte te laat gediagnoseer word.

“As ons oorlewing wil verbeter, is dit noodsaaklik dat ons dadelik optree en bewusmaking verbeter,” sê sy in ’n verklaring. “Nasionale bewusmakingsprogramme moet oral in Brittanje aangebied word, en ons doen vandag ’n beroep op regerings en uitvoerende beamptes in Westminster, Cardiff, Holyrood en Stormont om dit te laat gebeur.”

Jones het ook opgemerk dit is nie net vroue wat aan hierdie lewensbelangrike kennis ontbreek nie. Hul oorsig het bevind dat byna die helfte (44 persent) van huisdokters onder die verkeerde indruk verkeer dat simptome eers in die later stadiums van kanker van die eierstokke voorkom.

Volgens Debbie Sharp, professor in primêre gesondheidsorg aan die universiteit van Bristol en lid van die adviespaneel van Pathfinder 2016, is die gebrek aan bewustheid kommerwekkend.

“Dis onrusbarend dat ons so min bewustheid onder die publiek en huisdokters sien,” het sy bygevoeg. “Dit is belangrik dat ons nou hierop reageer, sodat ons huisdokters die beste kans kan gee om die siekte vroeër te diagnoseer, want dan is dit makliker om te behandel.”

Kanker van die eierstokke word jaarliks by sowat 7 300 vroue in Brittanje gediagnoseer, en 4 100 van hulle sterf aan die siekte. As die diagnose in die vroeë stadium gemaak word, verdubbel die vrou se kans om dit te oorleef,” verklaar die liefdadigheidsorganisasie.

© Cover Media