Navorsers aan die Washington-universiteit in St. Louis het in ’n studie 300 paartjies vanaf hul 20’s tot en met hul dood bestudeer. Die paartjies en hul beste vriende is met die aanvang van die studie gevra om vrae oor hul persoonlikheid beantwoord. Hul antwoorde is onlangs vergelyk met die ouderdomme waarop hulle gesterf het. En dit lyk asof hul vriende akkurater voorspel het wanneer hulle sou sterf as wat hulle self het. Die studie het in die 1930’s begin en vriende wat ’n belangrike rol in die jong paartjies se lewe gespeel het, soos hul strooimeisies en strooijonkers, is ondervra. Mans wie se vriende hulle as pligsgetrou, betroubaar en verbeeldingryk beskryf het, het langer geleef. Diegene wat as minder betroubaar beskou is, het ’n korter lewensduur gehad. Dit kan dalk wees omdat hulle meer geneig sou wees om kanse te waag.

'Dit lyk asof hul vriende akkurater voorspel het wanneer hulle sou sterf as wat hulle self het.'

Die vroue wat die langste geleef het, se naastes het hulle as deernisvol en emosioneel stabiel beskou. Dit kan dalk toegeskryf word daaraan dat vroue met sulke karaktereienskappe teen depressie kan baklei en woede en angstigheid beter hanteer – alles dinge wat gesondheidsrisiko’s inhou.

Maar hoekom ken ’n mens se vriende jou so goed? Dis dalk omdat hulle jou vanuit ’n objektiewe oogpunt sien en eienskappe opmerk wat jy nie raaksien nie. “Daar is in ons studie bevind mense kan ’n persoon se persoonlik waarneem en akkuraat genoeg opsom om vroeë sterfte dekades in die toekoms te voorspel,” sê die navorser dr. Joshua Jackson.

Die studie, wat in die vaktydskrif Psychological Science gepubliseer is, is een van die langste nog in die sielkunde. “Dit wys watter belangrike invloed persoonlikheid byvoorbeeld gesondheid het,” sê Joshua. “En dit toon dat inligting van vriende en ander waarnemers ’n belangrike rol kan speel om iemand se gesondheidsprobleme te verstaan.”

© Cover Media