Viagra is die uitverkore middel in die geval van mans wat hulp nodig het met hul sekslewe, maar navorsers in Duitsland en China beweer dit kan ander voordele ook inhou. Navorsing wat op muise gedoen is, het getoon Viagra kan die wyse waarop die liggaam vet gebruik verander deur dit in energie te omskep eerder as om dit op te gaar.

Viagra, wat gebruik word om erektiele disfunksie te behandel, laat die spiere in die penis ontspan en verhoog die bloedvloei na die gebied. Vorige navorsing het daarop gedui dat muise wat die middel vir lang tye gebruik, minder geneig is om vet te wees, dus het navorsers van die universiteit van Bonn die teorie getoets.

Hulle het Viagra sewe dae lank aan die muise gegee en toe die uitwerking op die vetselle gemeet. Daar is bevind die medikasie het wit selle in beige vet omskep. Beige vet verbrand, baie soos bruin vet, energie uit voedsel en omskep dit in hitte.

Chinese wetenskaplikes beproef dit nou op ’n toetsgroep van mense. Altesaam 40 mans sal in twee groepe verdeel word, die een groep sal Viagra ’n week lank drie keer per dag kry, terwyl die ander groep ’n plasebo sal ontvang. Die uitwerking sal dan by die Wuhan-hospitaal in China, waar die proefnemings gedoen word, gemeet word.

Die uitslae van die toetse op muise is in die Tydskrif van die Federasie van Amerikaanse Verenigings vir Eksperimentele Biologie gepubliseer. Die navorsers beweer die uitslae toon Viagra kan ongesonde vet “laat wegsmelt”.

Daar is ’n yslike verskil tussen wit en bruin vet. Die grootste persentasie van die vetinhoud van ’n volwassene bestaan uit wit vet en ’n mens se oortollige kilojoules word daar opgegaar. As babas het ’n mens baie meer bruin vet, want dit help om jou warm te hou wanneer die liggaam nog nie ten volle ontwikkel is en dit hitte nie behoorlik kan reguleer nie. Soos ’n mens groei, verloor jy die meeste van jou bruin vet. Daar bly net ’n bietjie hiervan rondom die nek en in die skouergebied oor, ten einde ’n kerntemperatuur te handhaaf.

Wetenskaplikes soek nou maniere waarop volwassenes bruin vet meer kan benut.

© Cover Media