Selfvervullende voorspellings word al lank op die gebied van sosiale sielkunde bespreek.

Jong volwassenes wat hulle bekommer dat hulle te vet is, het ’n groter kans om, wanneer hulle ouer is, ongesonde maniere van verslanking te beproef – soos ooreet en vomeer, en dieetpille – wat tot gewigstoename op lang termyn kan lei.

En verrassend genoeg sê die navorsers seuns het ’n groter risiko as meisies. Trouens, seuns wat glo hulle is vet, het ’n 89 persent groter kans om later in hul lewe vet te wees as dié wat hul gewig akkuraat beskou. “Ons navorsing toon sielkundige faktore is belangrik by die ontwikkeling van vetsug,” sê die ondersoek se skrywer Angelina Sutin, ’n sielkunde-wetenskaplike aan die Staatsuniversiteit van Florida.

'Ons navorsing toon sielkundige faktore is belangrik by die ontwikkeling van vetsug.'

“Wanpersepsie word tipies beskou as ’n teken van ’n eetsteuring, soos anoreksie of bulimie, maar ons navorsing toon dit kan ook op ’n langtermynrisiko vir vetsug dui.”

Die ondersoek steun op data van die National Longitudinal Study of Adolescent Health, wat navorsers in staat gestel het om na die lengte, gewig en liggaamsbeeld van meer as 6 500 jong mense tussen 16 en 28 jaar te kyk.

Die deelnemers is op 16 jaar gevra om op ’n skaal aan te dui hoe hulle hul gewig ervaar. Die skaal het gewissel van een vir ondergewig tot vyf vir baie oorgewig. Die jong mense wat hulself as oorgewig beskou het, maar eintlik medies ’n gesonde grootte was, het die interessantste bevindings opgelewer.

Diegene wat hulself geklassifiseer het as groter as wat hulle werklik is, het ’n 40 persent groter kans gehad om as ’n volwassene vetsugtig te word. Vetsug word beskryf as ’n liggaamsmassa-indeks (LMI) van 30 of meer.

Die navorsers meen dis dalk omdat die jong mense later ongesonde verslankingsmetodes beoefen, minder selfbeheer het en nie stappe doen om ’n gesonde gewig te handhaaf nie. In die geheel word dit ’n selfvervullende voorspelling.

“Adolessente wat hulself verkeerdelik as oorgewig beskou, doen dalk nie die nodige stappe om ’n gesonde gewig te handhaaf nie,” voeg die navorsers by.

“. . . (As) hulle gewig aansit, word hulle letterlik dit wat hulle lank gedink het hulle is.”

Die feit dat seuns ’n groter gevaar loop, skryf Angelina daaraan toe dat meisies meer aandag gee en ingryp voor hulle gewig aansit of dat gesondheidsorgwerkers meer geneig is om in te gryp in gewigstoename by meisies. Maar sy voeg by dit is nog onduidelik.

© Cover Media