Net 10 porsies per week van dié vrug kan glo die siekte help stuit danksy likopeen, ’n chemikalie wat mans glo teen prostaatkanker kan beskerm.

’n Studie, die eerste van sy soort, is aan die universiteite van Oxford, Cambridge en Bristol in die Verenigde Koninkryk op amper 14 000 mans tussen 50 en 69 uitgevoer. Die deelnemers, wat oor sewe dae die voorgestelde hoeveelheid tamaties geëet het, se kans om die siekte te kry, was 18 persent laer as dié wat minder of geen tamaties geëet het.

Die inname hoef nie tamaties in sy natuurlike vorm te wees nie; selfs as die basis van ’n pastasous, in gebakte boontjies of in pureevorm het gehelp. Solank dit 150 g tamatie is, tel dit.

“Ons bevindinge dui daarop dat tamaties belangrik is in die voorkoming van prostaatkanker,” het die hoofnavorser, Vanessa Er van die Universiteit van Bristol, in ’n verklaring gesê.

“Ons het ook bevind mans wat meer vrugte en groente eet, het ’n verminderde risiko vir prostaatkanker. Die verminderde risiko vir mans wat vyf of meer porsies vrugte of groente geëet het, vergeleke met dié wat minder as twee en ’n half porsies geëet het, was 24 persent.”

Maar dit beteken nie mans moet ander vrugte en groente uitsny sodat hulle meer tamaties kan eet nie. Vanessa vra ook mense moenie te veel boontjies of pizza eet nie omdat dit baie sout bevat.

Maar dr. Iain Frame, van Prostate Cancer UK, is nie oortuig deur die navorsing nie.

Sulke studies is taamlik moeilik om te interpreteer en moet baie versigtig gedoen word. Dis moeilik om die uitwerking van een soort kos van ’n ander te onderskei, en ons het nie naastenby genoeg bewyse om konkrete aanbevelings te dowen oor watter kosse mans moet eet om hul risiko vir prostaatkanker te verminder nie,” het hy verduidelik.

“Ons weet wel mans moenie te swaar op een soort kos, soos tamaties, steun nie. ’n Gesonde, gebalanseerde dieet met baie vars vrugte en groente tesame met gereelde oefening is verreweg die beste raad.”

© Cover Media