Dit is bekend dat ’n gebrek aan slaap met jou kop kan smokkel, maar daar is in ’n nuwe studie bevind dat die slaap-beroofde toestand terugflitse kan skep wat nie werklik gebeur het nie.

Dit is kommerwekkend, veral as ’n persoon ’n verklaring moet aflê of ’n getuie in ’n misdaad is; dit kan tot ongeregtigheid lei.

In ’n eksperiment wat in die joernaal Psychological Science gepubliseer is, moet 104 studente na foto’s kyk van misdade wat plaasvind. Hulle is dan valse feite vertel oor wat die foto’s uitbeeld.

Daarna het die helfte van die studente geslaap, terwyl die ander helfte die hele nag wakker gebly het. Tydens die assessering die volgende dag was dié wat wakker gebly het meer geneig om oortuig te wees hulle het die vervalste gebeure in die foto’s “gesien”, terwyl dié wat geslaap het die beelde beter kon onthou.

Dit volg op ander studies wat bewys het kognitiewe funksionering word geaffekteer as ’n persoon nie ’n volle nagrus kry nie.

Maar ’n sielkundige van die Universiteit van Kalifornië, die wetenskaplike Steven Frenda, het bevind daar kort inligting oor die verhouding tussen geheue en slaap.

“Oor die jare het ek opgelet wanneer ek nie goed slaap nie, raak my waarneming en geheue dof, tot ek weer slaap om te herstel,” het hy verduidelik.

“Ek was verbaas om uit te vind dat daar so min empiriese studies is wat ’n gebrek aan slaap verbind met geheueverdraaiing in ’n ooggetuie-konteks. Die studies wat wel bestaan, kyk meestal na slaap-beroofde mense se vermoë om lyste en woorde akkuraat te onthou – nie regte mense, plekke en gebeure nie.”