Dis ’n vuurwarm debat met sommige wat meen hulle het talle platoniese mansvriende, terwyl ander sê daar was nog altyd nogal ’n vonk, al kom dit net van een kant af.

Dinge raak nogal moeilik wanneer dit nie ’n wedersydse gevoel is nie, byvoorbeeld as jy hou van ’n ou en hy net vriende wil wees, of as hy mal is oor jou en jy voel nie dieselfde nie. Hoe hanteer ’n mense sulke situasies?

Kom ons kyk eerstens na laasgenoemde situasie. Jy kom goed oor die weg met ’n vriend, maar kan aanvoel hy soek meer. Dis belangrik om van die begin af oop kaarte te speel. As jy iemand spesiaals in jou lewe het, moet jy hom daarvan sê. Laat elke dan en wan tydens ’n gesprek iets oor jou kêrel val en moenie slegpraat oor hom voor die ou nie; hy dink dalk jy wag op hom om jou te “verlos”.

Selfs as jy enkellopend is, kan jy hom nie aan ’n lyntjie hou nie. Dis normaal om daardie gevoel van iemand wat van jou hou te geniet, maar as hy ’n pel is vir wie jy werklik omgee, is dit wreed om hom valse hoop te gee. Moenie hom soos ’n plaasvervanger of reserwe-kêrel behandel nie. Beperk afsprake tussen julle twee tot ’n minimum en moenie gaan uiteet of fliek nie – hy kan dit beskou as die begin van iets meer. Gaan liewer op groepuitstappies en sê beleef “nee dankie” vir enigiets wat vaagweg intiem klink. Probeer ook die versoeking weerstaan om aan hom te vat. Dit voel lekker om naby iemand te wees en die meeste mense smag van nature na aanraking omdat dit hulle geliefd en veilig laat voel. Maar drukkies, ’n speelse bakleiery en ligte aanrakings is flankeer. Hou jou hande tuis om enige ongemaklike situasies te vermy. Dis uiters belangrik om eerlik te wees as hy oop kaarte oor sy gevoelens speel. Moenie uitstel met frases soos “nie nou nie”, want dit gaan dinge onopgelos en vir hom hoopvol laat.

Dit kan moeilik wees om tussen ’n pel en ’n kêrel te onderskei; daarom is dit belangrik dat jy doodseker is voor jy dit verder voer.

Maar sê nou maar dit is jy wat meer soek en hy stel nie belang nie? Hier moet jy jou hart beskerm. Hopelik gee hy werklik om vir jou en hou jou nie aan ’n lyntjie om sy ego te streel nie. As hy ’n meisie het, maar met jou flankeer, moet jy ’n bietjie gaan nadink oor of hy werklik ’n goeie vriend is. Hy respekteer geeneen van julle nie en dis dalk beter om so gou moontlik afstand van hom te doen.

Dis ook belangrik om jou nie in kwesbare situasies te plaas nie. Al is dit hoe aanloklik om in te stem om alleen saam met hom uit te hang, moet jy “nee dankie” sê as jy seker is hy voel nie dieselfde oor jou nie. Moet ook nie te veel drink wanneer jy met hom uithang en dan ’n skuif maak of erken hoe jy oor hom voel nie. Dit kan die vriendskap vernietig en jou in die verleentheid stel.

Dis nie te sê jy mag glad nie vir hom sê jy hou van hom nie. As hy nog nooit spesifiek gesê het dat hy nie in jou belangstel nie en jy dink daar is ’n sprankie hoop, wees dapper en sê dit vir hom. Jy weet nooit hoe hy dalk gaan reageer nie, en onthou, van die beste verhoudings kan uit hegte vriendskap ontwikkel.

Maak net seker jy is nugter en doodseker hoe jy oor hom voel. Dit kan moeilik wees om tussen ’n pel en ’n kêrel te onderskei; daarom is dit belangrik dat jy doodseker is voor jy dit verder voer.

Dis beslis nie onmoontlik vir ouens en meisies om vriende te wees nie; daar is immers baie mense wat dit regkry. Solank albei eerlik is met mekaar is ons vol vertroue dat julle ’n wonderlike (platoniese) vriendskap kan hê.

© Cover Media