Die verterende vraag oor die moontlikheid van ewige lewe hou die mens se gedagtes al baie lank besig. Ons sal miskien nie vir ewig hier op aarde kan leef nie, maar ’n onlangse studie van wurms het hoop gebring dat inwendige veroudering dalk vertraag kan word.

’n Span gelei deur prof. Richard Morimoto het in hul navorsing oor die verouderingsproses ’n deursigtige rondewurm, Caenorhabditis elegans, gebruik omdat dié se biochemiese omstandighede soortgelyk is aan dié van die mens.

Hulle het bevind volwasse selle stap die afdraande pad nadat hulle voortplantingsrypheid bereik het. ’n Genetiese skakelaar begin dan die prosesse afsluit wat die selle beskerm. In die geval van die wurm gebeur dit agt uur nadat hy volwassenheid bereik het en Richard-hulle het ontdek die stamselle van die kiemlyn, wat verantwoordelik is vir die vervaardiging van eiers en sperm, beheer die skakelaar.

Dieselfde soort skakelaar kom by mense voor.

Een van die belangrikste onthullings in die studie is dat hierdie skakelaar geïdentifiseer kon word en dit bewys die verouderingsproses het wel ’n begin. Dit is ook nie ’n stadige proses van lukrake gebeurtenisse soos wat vroeër aangeneem is nie.

Die bevindings is in die wetenskaptydskrif Molecular Cell gepubliseer en Richard stippel uit presies wat dit vir mense kan beteken wat die verouderingsproses en die vertraging van siektes betref.

“Sou dit nie vir die samelewing veel beter wees as mense tydens hul leeftyd langer gesond en produktief kon bly nie?

“Ek wil baie graag die gehaltebeheerstelsels so lank moontlik op hul beste hou en nou het ons ’n mikpunt,” het hy gesê.

“Ons bevindings dui op die moontlikheid van ’n manier om hierdie genetiese skakelaar weer aan te skakel en ons ouer wordende selle te beskerm deur hul vermoë te verhoog om stres te kan weerstaan.”

© Cover Media