Navorsers by die Brown-universiteit in Rhode Island, Amerika, het in 19 proefnemings kakao-inname by meer as 1 100 vrywilligers ondersoek en ontleed.

Die wetenskaplikes wou vasstel of die inname van sekere kakao-produkte wat die samestelling flavonoïed bevat biomerkers verbeter, onder meer cholesterol, insuliensensitiwiteit en die hormoon wat die bloedsuikervlak reguleer.

“Ons wou kyk of die invloed op die biomerkers ’n rol kan speel in die voorkoming van diabetes en hartvatsiektes,” het dr. Simin Liu, gesê.

Lees ook: Rooiwyn is toe nie so gesond as wat jy dalk gedink het nie

“Ons het gevind die inname van kakao-flavonoïede kan dislipidemie (abnormale bloedvlakke van lipiede en lipoproteïene), insulienweerstandigheid en sistemiese inflammasie, wat almal risikofaktore vir kardiometaboliese siektes is, verlaag.”

Die resultate was konsekwent, ongeag in watter sjokoladeproduk die flavonoïede voorgekom het. Die hoofskrywer, Xiaochen Lin, het in ’n verklaring gewaarsku teen die veralgemening van die resultate; nie alle sjokolade hou hierdie voordele in nie.

By sjokoladelekkers of witsjokolade kan “die suikerinhoud byvoorbeeld aansienlik hoër wees as in die donkersjokolade.”

Lees ook: Sjokolade ‘kan heilsaam wees tydens swangerskap’

Al het die biomerkers nie by alle vrywilligers verbeter nie, het die navorsers verklaar: “Daar was ’n klein tot middelmatige, statisties waarneembare verbetering by dié wat flavonoïedryke kakaoprodukte geëet het.” Die grootste verbetering is gemerk by dié wat 200 tot 600 mg flavonoïed per dag ingekry het.

Die skrywers het tot die volgende slotsom gekom: “Ons studie wys nog langtermynproefnemings is nodig sodat die korttermynvoordele wat kakao-flavonoïed-inname inhou vir kardiometaboliese biomerkers in kliniese resultate omskep kan word.”

Die artikel is in die Journal of Nutrition gepubliseer.

© Cover Media