In onlangse navorsing word beweer die verlies van ’n geliefde kan regtig jou hart breek.

Ons word gebombardeer deur ouvroustories oor mense wat nooit herstel ná die dood van hul geliefde nie, maar dit blyk nou dat bedroefde agtergeblewenes ’n groter kans het om vir ’n jaar ná die verlies ’n onreëlmatige hartklop te ontwikkel.

Hierdie toestand staan bekend as atriale fibrillasie, en dit kan die kans op ’n beroerte of hartversaking verhoog.

Sommige mense is meer as 40 persent meer geneig om dit te ontwikkel as iemand wat nie hierdie soort droefheid ervaar het nie.

Deense navorsers het van 1995 tot 2014 data ondersoek van 89 000 mense by wie atriale fibrillasie gediagnoseer is.

Daarna is dit met gesondheidsverslae van 886 000 gesonde mense vergelyk. Hulle het vasgestel dat 17 478 van die mense by wie die siekte gediagnoseer is, ook ’n maat verloor het.

As die maat onverwags gesterf het, was die risiko groter, terwyl mense onder 60 jaar wat die verlies van ’n lewensmaat moes oorkom, blykbaar twee keer so geneig was om atriale fibrillasie te kry.

Lees ook: Is jy ’n emosionele eter? Hier is wenke om dit te klop

In die studie, waarvan die bevindings in die Britse mediese tydskrif Open Heart gepubliseer is, is bevind dat die grootste risiko agt tot 14 dae ná die dood van ’n geliefde was.

“Die verlies van ’n maat word beskou as een van die mees stresvolle ervarings en dit gaan beslis die meeste mense raak . . .” het die wetenskaplikes van die Universiteit van Aarhus in die verslag geskryf.

In hierdie studie, wat op ’n groot deel van die bevolking gegrond is, word die oneindig stresvolle gebeurtenis in jou lewe, die verlies van ’n maat, vereenselwig met ’n kortstondige, verhoogde risiko vir atriale fibrillasie, wat ongeveer ’n jaar voortduur.

Prof. Ellen Makotoko, hoof van die departement kardiologie aan die Universiteit van die Vrystaat, beaam hierdie bevindings.

“Akute stress, soos wanneer ’n geliefde skielik sterf, kan beslis tot ’n hartaanval lei,” sê sy. “Daar is ’n siektetoestand by name takotsubo wat al die gewone simptome en tekens van ’n hartaanval openbaar, soos borspyne.

Lees ook: Klop só lag-lag jou hoofpyn

“Die grootste verskil tussen ’n gewone hartaanval en takotsubo, is dat die slagare wat bloed na die hart vervoer, by laasgenoemde normaal bly. Die hartspiere werk ook weer na ’n paar weke normaal.”

Ellen verduidelik dat takotsubo heel moontlik veroorsaak word deur ’n skielike toename in adrenalien, ’n hormoon wat afgeskei word wanneer die liggaam onder kwaai spanning verkeer.

“Dit blyk dat takotsubo meer voorkom by pasiënte bo 60 en meer waarskynlik by vroue as mans.”

Navorsers het bygevoeg die risiko is veral hoog as die persoon ’n betreklik gesonde maat verloor het en die dood onverwags was.

Deskundiges raai mense wat met verlies te doen het, aan om hul huisdokter te spreek om te kyk of hulle enige simptome ontwikkel.

© Cover Media

Ander stories op Huisgenoot.com:

Deadpool se Ryan Reynolds en sy mooie vrou Blake Lively deel groot nuus

Cruz Beckham volg al singend in ma Victoria se voetspore

Kyk: Ratse sjimpansee ‘cha-cha’ op kragdrade ná sy ontsnapping

Pragfoto’s: Die sprokiesverhaal van prins Rainier III en die beeldskone Grace Kelly se lewe saam

Hiert jy! Daar ontluik nóg ’n Schumacher in ’n gedugte spoedvraat