Alhoewel ongeveer een uit 10 mense in die Verenigde Koninkryk aan migraine ly, is die oorsaak daarvan grootliks onbekend.

Oor die jare is verskeie moontlikhede ondersoek, onder meer dat dit veroorsaak word deur breinselle wat die trigeminale senuwee van die gesig aktiveer.

Dit lei tot die afskeiding van chemikalieë wat die bloedvate op die breinoppervlak laat swel. Hierdie geswolle bloedvate verhoog die pynimpulse wat die brein bereik en nuwe behandelingstegnieke fokus juis daarop om dié impulse te onderdruk.

Nou wil dit lyk of migraine verlig kan word deur lug in die oor te blaas.

Lees ook: Hierdie kosse kan ‘n skeelhoofpyn veroorsaak

Die oortrom maak toegang tot die trigeminale senuwee moontlik en kan dus keer dat pynimpulse die brein bereik.

Die toestel waarmee die lug in die oor geblaas word, staan bekend as ’n druklug-otoskoop. Dit lyk soos die instrument wat dokters gebruik om die hoeveelheid vloeistof agter die oortrom te meet.

Alhoewel dokters net ’n bietjie lug met die otoskoop inblaas, word lug met die voorgestelde migrainebehandeling tot 20 minute lank konstant by die oor ingeblaas.

Wetenskaplikes by die Carrick-instituut in Arizona wil die tegniek op 25 migraine-lyers toepas, maar dit word beperk tot een sessie per aanval. Die deelnemers moet dan voor en ná die aanval aandui hoe hewig die simptome is.

Lees ook: Dien skeelhoofpyn die nekslag toe

Simptome sluit gewoonlik kwaai hoofpyn, moegheid en braking in.

“Ons hoop dié metode sal die senuwees in die oor en dié na die oortrom stimuleer,” het dr. Andy Dowson, voorsitter van Migraine’s Action mediese adviesraad, oor die proefneming gesê.

“In die geval van migraine is die brein oorsensitief en word dit maklik deur boodskappe van die sensoriese senustelsel gestimuleer. Hierdie tegniek sou die boodskappe doeltreffend kon herlei. Dit sal baie interessant wees om te sien watter rigting die studie inslaan.”

© Cover Media