Baie mense probeer die kafeïendrankie los wanneer hulle gruwelstories hoor van geel tande en selluliet, terwyl ander dit drink in die hoop dat dit hul metabolisme sal versnel en hul van antioksidante sal voorsien.

As jy nie mooi weet aan watter kant van die heining jy is nie, kan ’n nuwe studie deur die Amerikaanse regering se departement van gesondheidsnavorsing jou dalk net na die naaste koffiewinkel stuur!

Navorsers het 450 000 mans en vroue met ’n gemiddelde ouderdom van 63 jaar bestudeer. Hulle was almal skoon van kwaadaardige melanoom, die dodelikste vorm van velkanker wat gewoonlik in ’n moesie ontstaan ná blootstelling aan sarsies sterk sonlig. Aan die einde van die studie het 3 000 dié kanker ontwikkel. Volgens die bevindings lyk dit of die koffiedrinkers onder die 450 000 mense – wat 90 persent van die totaal uitmaak – minder geneig was om die siekte te ontwikkel. En volgens die Journal of the National Cancer Institute het diegene wat meer koffie gedrink het, die geringste kans om kwaadaardige melanoom te ontwikkel. Diegene wat vier koppies koffie per dag gedrink het, se kans om die siekte te kry het met 20 persent afgeneem.

'Hou liewer by een koppie soggens en drink iets soos groentee deur die loop van die dag.'

Ander faktore is ook in ag geneem, soos of deelnemers rook, hoeveel alkohol hulle drink en hoe sonnig hul woonplek is. Die bevindinge steun vorige navorsing wat bevind het kafeïen help om selle met UV-skade te vernietig terwyl dit nie die gesondes affekteer nie.

Maar die navorsing moet nog verder gevoer word en die bevindings word as “voorlopig” beskryf; daarom word dit nie aanbeveel om die een koppie koffie ná die ander te drink nie.

’n Mens neem baie kafeïen in as jy vier koppies koffie per dag drink en dit kan lei tot ’n verhoogde hartklop en angstigheid. Hou liewer by een koppie soggens en drink iets soos groentee deur die loop van die dag.

© Cover Media