Ons weet al jare dat ons beter lyk as ons goed eet, en Jerome Sarris, senior navorsingsgenoot aan die Universiteit van Melbourne, beweer nou sekere voedingstowwe is ook noodsaaklik vir die werking van die brein.

In ’n artikel wat hy vir die mediagroep The Conversation geskryf het, het hy die belangrikheid uitgelig van ’n gesonde dieet en voedsame aanvullings vir ons geestesgesondheid.

Kliniese navorsing steun die gebruik van Omega-3-vetsure, N-asetielsisteïen, S-adenosielmetionien, sink, magnesium, vitamien D en B-vitamiene (insluitend foliensuur) vir die behandeling van sekere sielkundige steurings. Daar word ook geglo die gesondheid van die brein word beïnvloed deur natuurlike komponente, waaronder mikrobiotika (afkomstig van gefermenteerde kos of laboratoriumsintese) sowel as plant gebaseerde antioksidante en aminosure.

Deskundiges is huiwerig om enige kossoorte uit te sonder as hulp by die behandeling van geestesiektes, maar hulle beveel tog die gebruik aan van voorgeskrewe voedingstowwe en ’n dieet wat ryk is aan onverwerkte heel kossoorte.

Ons gee jou hier ’n kykie na ’n klompie kossoorte wat bekend is daarvoor dat hulle propvol noodsaaklike voedingstowwe is.

Navorsing het getoon B-vitamiene, soos foliensuur (B9), beskik oor ’n verhoogde reaksiespoed wat antidepressante en medisyne betref. Enigiemand wat voedsel soek wat baie foliensuur bevat, behoort blaargroentes, neute en peulgroente nader te trek. Eiers, kaas, volgraanprodukte en onverwerkte vleis het almal indrukwekkende vlakke van vitamien B, en die deskundiges raai jou aan om aanvullers saam met hierdie kossoorte in te kry. Omega-3-aanvullers word heel dikwels aanbeveel vir bipolêre en posttraumatiese stressteuring. Die voedingstof kom natuurlik voor in olieryke vis, soos salm en makriel, sowel as in neute en sade.

’n Gebrek aan yster word verbind met angs en depressie

’n Gebrek aan yster word verbind met angs en depressie, en yster is betrokke by ’n hele klomp neurologiese aktiwiteite. Onverwerkte orgaanvleissoorte soos lewer, asook blaargroentes soos spinasie is ’n baie ryk bron van hierdie voedingstof.

Vrugte en groente is propvol antioksidante, en daar word geglo dat hierdie samestellings vrye radikale, wat selle beskadig, beveg. Skade aan breinselle word gekoppel aan verskeie steurings soos demensie en depressie. Bessies, druiwe, mango‘s, knoffel en krulkool, tesame met verskeie soorte kruietee, bevat glo aansienlike vlakke van antioksidantsamestellings.

© Cover Media