Navorsers aan die AHEPA-universiteitshospitaal in Thessaloniki, Griekeland, het data van 150 oorgewig mense landwyd bekyk.
Daar is egter in die navorsing bevind dat enkellopers meer geneig is om vetsugtig te wees met ’n LMI van meer as 35.

Dis ’n algemene opvatting dat mense in verhoudings gemaklik raak en hul planne om slank te bly, laat vaar. Die jongste studie verdryf nie dié opvatting nie; daar is bevind getroudes is meer geneig om in die oorgewig-kategorie te val met ’n liggaamsmassa-indeks (LMI) van tussen 30 en 35. LMI word bepaal deur ’n persoon se lengte en gewig. ’n Gesonde LMI vir volwassenes is tussen 18,5 en 24,9.

Daar is egter in die navorsing bevind dat enkellopers meer geneig is om vetsugtig te wees met ’n LMI van meer as 35. Die studiegroep het bestaan uit 113 vroue en 40 mans en die gemiddelde ouderdom was 47. Sowat 60 persent van die groep was getroud.

’n Kwart van deelnemers het ’n LMI van 30 tot 35 gehad en ’n derde het in die 35-tot-40-kategorie geval. Die laaste 42 persent het ’n LMI van meer as 40 gehad.

“Dit lyk of huwelikstatus die ontwikkeling van vetsug by mans en vroue beïnvloed,” het die skrywers van die studie gesê toe hulle hul bevindings op die Europese kongres oor vetsug in Praag aanbied.

“Selfbeeld en lewensgehalte neem af soos gewig toeneem en dit beïnvloed die vermoë en/of wilskrag om ’n lewensmaat te vind. Hoewel uiters vetsugtige mense meer geneig is om ongetroud te wees, het mense in die ander kategorieë van vetsug ook ’n groter kans om enkellopend te wees.”

Een van die navorsers se verduidelikings hiervoor is “die maatskaplike en demografiese eienskappe van elke persoon”, wat opvoedingsvlak – wat ’n rol in die keuse van ’n lewensmaat kan speel – insluit.

“Daar is ook aanduidings dat die teenwoordigheid van depressie en verwante versteurings tesame met morbiede vetsug, ook ’n uitwerking kan hê op die keuse om enkellopend te bly.”

© Cover Media