Hoewel dit nie vir alle swanger vroue gaan help nie, is daar 'n klein groepie vroue wat by aspirien kan baat, sê kenners.

'n Britse vrou het verlede maand aan die koerant Daily Mail vertel dat sy vier jaar in 'n ry haar baba op 11 weke verloor het, maar toe danksy daaglikse aspirien-tablette nou 'n gesonde seuntjie ryker is.

Dit klink na 'n wonderkuur wat vroue wêreldwyd ongekende hartseer kan spaar, maar dokters sê dit is ongelukkig nie so eenvoudig nie.

"Daar is wel gevalle waar swanger vroue by aspirien kan baat," sê dr. David Hall, 'n professor in verloskunde en ginekologie aan die Universiteit Stellenbosch. "Maar 'n miskraam is gewoonlik 'n natuurlike proses wat 'n abnormale swangerskap beëindig."

Hy verduidelik dat aspirien daarom nie noodwendig alle vroue gaan help nie. Dit kan wel vroue help wat  herhaalde miskrame ondervind, in die besonder dié wat aan trombofilie ly of met antifosfolipied-sindroom sukkel. Albei dié kwale veroorsaak dat die bloed verdik en lei tot hoër kanse op 'n miskraam.

"Hierdie vroue kan baat by aspirien en in sommige gevalle by heparienterapie, wat ook die bloed verdun."

Aspirien kom algemeen in pynstillers voor, maar David sê dit is belangrik dat vroue dit eers met hul dokter bespreek as hulle 'n aspirienaanvulling oorweeg.

"Aspirien help ook om preëklampsie te verlaag onder vroue wat 'n risiko vir miskrame loop," sê hy. Preëklampsie is 'n ernstige siektetoestand waartydens swanger vroue laat in hul swangerskap skielik hoë bloeddruk kry. "Dit is veral gevaarlik wanneer die vrou se bloeddruk reeds hoog is en kom meer algemeen voor onder oorgewig vroue."

Hy sê die aspirien kan ook hier help om inflammasie te laat bedaar en te keer dat bloed verdik, wat die kans op 'n miskraam verlaag. Hy benadruk weer dat dit belangrik is dat vroue altyd eers met hul dokter gesels.

Bykomende bron: Daily Mail