Bioaktiewe bestanddele wat in kakao gevind word, het ouderdomsverwante geheue-agteruitgang in ’n groep vrywilligers skerp laat daal, het wetenskaplikes Sondag berig.

Die verbindings, wat as flavanole bekendstaan, is in ’n spesiaal voorbereide kakaodrankie gedrink, sê ’n eksperiment wat in die joernaal Nature Neuroscience gepubliseer is.

Oor drie maande het 37 gesonde vrywilligers tussen die ouderdom van 50 en 69 daagliks ’n drankie gedrink wat óf ’n hoë dosis flavanole (900 mg) óf ’n lae dosis (10 mg) bevat.

Die wetenskaplikes het ’n breinskandering gedoen; hulle het die bloedvolume gemeet in ’n belangrike deel van die hippokampus genaamd die dentate girus, ’n deel van geheuevorming wat gewoonlik afneem soos wat ’n persoon ouer raak.

Hulle het ook geheuetoetse uitgevoer voor en nadat die vrywilligers die drankie begin drink het.

Die toetse het bestaan uit ’n patroonherkenningsoefening van 20 minute wat ’n soort geheue assesseer wat deur die dentate girus beheer word.

Die groep wat baie flavanole ingeneem het, sê  geheue het baie verbeter en daar was ’n toename in bloedvloei na die dentate girus.

“As ’n deelnemer aan die begin van die studie die geheue van ’n deursnee-60-jarige gehad het, het die persoon aan die einde van die studie die geheue van ’n deursnee-30- of -40-jarige gehad,” sê Scott Small, ’n neurologiedosent aan die Columbia-universiteit se mediese sentrum in New York.

Meer werk, in ’n groter groep, is nodig om hierdie aanvanklike bevindinge te verifieer, het hy gewaarsku.

Flavanole trek groot aandag. Dit beloof die bevegting van ouderdomsverwante geheueverlies in die wêreld se snelgroeiendste bevolking bejaardes sonder die gebruik van medikasie.

Die samestelling kom voor in druiwe, bloubessies en ander vrugte, asook in party groentes en tees, maar die soort en hoeveelheid flavanole wissel.

Vorige studies in muise het getoon dat die klas flavanole wat in kakao voorkom, gee die dentate girus se werking ’n hupstoot.

“Die mens en die muis se dentate girus is baie soortgelyk,” het Scott in ’n e-pos aan AFP gesê.

“Ek stel my voor dat ons studie wel die eerste keer wys dat flavanole die werking van die dentate girus by die mens verbeter, veral by verouderende mense.”

Die bevindinge is van toepassing op gewone geheueverlies – soos om mense se naam amper onmiddellik weer te vergeet of om te vergeet waar jy jou bril gelos het – wat gewoonlik opmerklik word wanneer mense hul 50’s of 60’s bereik.

Dit is nie van toepassing op geheueverlies weens ’n siekte soos Alzheimer nie.

Die kakaodrankie is vervaardig deur ’n groot Amerikaanse kosmaatskappy, wat ook die navorsing deels ondersteun het.  Die studie is in ’n vaktydskrif gepubliseer.

Die firma het hul eie proses gebruik om die flavanole van kakaobone te onttrek. Onder gewone prosessering gaan die meeste van die flavanole van die rou bone verlore.

Scott het gesê dit is nog te vroeg om dieetvoorstelle vir flavanole te maak, maar “ek sal beslis nie voorstel dat mense meer sjokolade eet nie”.

“Dit sal ’n fout wees,” het hy gesê.

“Baie eenvoudig, die hoeveelheid flavanole in sjokolade is weglaatbaar min vergeleke met die hoë hoeveelheid onttrekte flavanole wat ons vrywilligers ingeneem het. Dieselfde is waar vir die meeste ander kosse of tees,” het Scott gesê.