Onderwysers het sekerlik al meer as een keer dié verskoning gehoor: “Ek is allergies vir hardloop.” ’n Nuwe studie toon dit kan dalk werklik die geval wees.

’n Genetiese mutasie veroorsaak galbulte wat verskyn weens die vibrasie van hardloop. ’n Stamperige busrit of hande kan byvoorbeeld ook die bulte laat verskyn.

Dié toestand staan bekend staan as trillingsgalbulte.

Lyers se selle oorreageer as’t ware en benewens ’n uitslag, kan trillingsgalbulte lei tot simptome soos hoofpyn, wasige sig, moegheid en ’n metaalsmaak in die mond, wat gewoonlik binne ’n uur verdwyn. Aanvalle kan ’n paar keer per dag voorkom.

’n Span wetenskaplikes by die Nasionale Gesondheidsinstituut (NGI) het drie families, van wie verskeie geslagte die siekte gehad het, vir die studie gebruik.

Lees ook: Werkstres laat jou meer eet

By ’n gesonde mens stel masselle in die vel en ander liggaamsweefsel histamien en ander inflammatoriese chemikalieë in die bloed vry in reaksie op sekere situasies en stimulusse. Dit staan bekend as degranulasie.

Navorsers het die histamienvlak in die bloed gemeet terwyl galbulte by die deelnemers sigbaar is.

Die resultate het getoon die histamienvlakke het dramaties gestyg wanneer die masselle op die vibrasie gereageer het. Ná ongeveer ’n uur het dit afgeneem – wat beteken hierdie selle was toe eers klaar met die uitwerping van die chemikalie in die stelsel.

’n Vermeerdering in triptase, nog ’n aanduiding van die degranulasie van die masselle, is ook opgemerk in die vel rondom die deel waar die uitslag voorgekom het.

“Ons het ’n geringe verhoging in bloedhistamienvlakke bespeur, asook ’n effense vrystelling van triptase uit masselle in die vel van mense wat aan vibrasie blootgestel word,” het die skrywer van die studie, dr. Hirsh Komarow, van die Nasionale Instituut van Allergieë en Aansteeklike Siektes se laboratorium vir allergiesiektes, volgens Daily Mail Online gesê.

Lees ook: Eet druiwe en verloor gewig

“Dit suggereer ’n normale reaksie op vibrasie, wat by die meeste mense geen simptome veroorsaak nie, word erger in pasiënte met hierdie oorgeërfde vorm van trillingsgalbulte.”

Die toestand is in 1981 vir die eerste keer deur wetenskaplikes by die Yale-universiteit nagevors nadat hulle ’n gesin met dié simptome hulle genader het.

Daar is bevind die lyers het ’n enkele mutasie in die ADGRE2-geen. Die wetenskaplikes van die NGI hoop om nog navorsing te doen ten opsigte van die siekte en om uit te vind hoe die geen muteer.

© Cover Media