Wat is bipolêre steuring?

Dit is ’n toestand wat die brein affekteer; dit word ook soms maniese depressie genoem. Mense met bipolêre steuring ervaar ongewone gemoedskommelings. Soms voel hulle baie gelukkig of opgewek en is baie aktiewer as gewoonlik. Dié geestestoestand word manie genoem. Ander tye voel hulle baie ongelukkig en terneergedruk en is baie minder aktief as gewoonlik. Dit word depressie genoem.

Bipolêre steuring is nie dieselfde soos die gewone gemoedsveranderinge wat elke kind deurmaak nie; die simptome is baie kragtiger en kan dit vir die kind moeilik maak om in die skool te presteer of om met vriende en familie oor die weg te kom. Die toestand kan ook gevaarlik wees omdat jongmense hulself kan probeer seermaak of selfdood probeer pleeg. Maar met die regte behandeling kan lyers hul simptome bestuur en suksesvolle lewens lei.

Wie loop die risiko bipolêre steuring?

Enigeen kan die steuring hê, insluitend kinders en tieners. Maar die meeste mense met bipolêre steuring ontwikkel dit laat in hul tienerjare of vroeg in hul volwasse jare. Die siekte bly lyers gewoonlik lewenslank by.

Wat veroorsaak dit?

Die presiese oorsaak van die steuring is nie bekend nie, maar daar word geglo ’n kombinasie van biochemiese, genetiese en angsfaktore speel ’n rol.

  • Biochemie: Navorsing het getoon dat bipolêre steuring verwant is aan ’n chemiese wanbalans in die brein, wat met die regte medikasie behandel kan word.
  • Genetika: Die steuring is geneig om ’n familie-eienskap te wees.  Navorsers het ’n aantal gene geïdentifiseer wat dalk verwant is aan die toestand. Maar as jy die steuring het en jou maat nie, is daar slegs ’n ses-persent-kans dat jou kind dit sal kry.
  • Angssteurings: Kinders met angssteurings is geneigder om bipolêre steuring te ontwikkel.

Tekens en simptome

Bipolêre steuring kan van mens tot mens anders lyk. Die patroon, felheid en herhalendheid van die patrone verskil wyd.

Daar is vier soorte gemoedsepisodes in bipolêre steuring: manie, hipomanie, depressie en gemengde episodes. Elke soort gemoedsepisode het ’n unieke stel simptome.

Party kinders is geneigder tot óf manie óf depressie, terwyl ander wissel tussen die twee soorte episodes.

Kinders en tieners met ’n maniese episode gaan dalk:

  • op ’n ongewone manier baie gelukkig voel of laf optree;
  • ’n baie kort humeur hê;
  • baie vinnig oor reeks onderwerpe praat;
  • sukkel om te slaap en nie moeg voel nie;
  • sukkel om te fokus;
  • gereelder oor seks dink en praat;
  • gewaagde dinge doen.

Kinders en tieners met ’n depressiewe episode gaan dalk:

  • baie terneergedruk voel;
  • baie oor pyn kla, soos maag- en hoofpyn;
  • te min of te veel slaap;
  • skuldig en niksnutsig voel;
  • te min of te veel eet;
  • min energie hê en nie belangstelling toon in pret aktiwiteite nie;
  • oor die dood en selfdood dink.

Hoe word bipolêre steuring behandel?

Dokters behandel kinders met die steuring dikwels soos volwassenes. Behandeling kan simptome beheer en is doeltreffend wanneer dit deurlopend is.

  • Medikasie: Verskillende soorte medikasie kan help. Kinders reageer verskillend op medikasie; die soort medikasie hang dus van die kind af. Party kinders gaan meer as een soort medikasie benodig omdat hul simptome ingewikkeld is.
  • Terapie: Verskillende soorte psigoterapie kan kinders met die steuring help. Terapie kan kinders hul gedrag help verander en hul roetines help bestuur. Dit kan jongmense ook met familie en vriende oor die weg help kom. Soms neem familielede aan die sessies deel.

Hoe jy jou kind kan help

  • Help jou kind bepaal wat hul geestesiekte is sodat hulle hulp kan kry. Neem jou kind na ’n psigiater, sielkundige, kliniek, dokter of berader om uit te vind wat fout is.
  • Leer meer. Bipolêre steuring is ’n siekte; leer meer daaroor. Hoe meer jy weet, hoe meer kan jy jou kind help gesond raak.
  • Vind ’n ondersteuningsgroep. Vind uit of daar enige ondersteuningsgroep in jou gebied is. Om vrese, bekommernisse en gevoelens te deel met mense in dieselfde situasie as jy kan baie help.
  • Laat jou kind deel van jou aktiwiteite wees. Nooi jou kind om saam met die res van die gesin te gaan stap, kerk by te woon, of enige ander aktiwiteite wat julle gewoonweg doen. Moedig hulle aan om aan pret aktiwiteite deel te neem – sowel nuwe dinge as dié wat hulle geniet het voor hulle aan die toestand begin ly het.
  • Luister! Luister na jou kind en moet hulle nie uit gesinsbesprekings sluit omdat jy dink dit is te stresvol vir hulle nie. Behandel jou kind so normaal moontlik.
  • Versorg en ondersteun jou kind. Tyd saam met familie en vriende is belangrik vir jou kind se beterskap. Vertel hulle ook altyd hoe lief jy hulle het.

Kry hier hulp

As jy vermoed jou kind ly aan bipolêre steuring, moet jy ’n geestesgesondheidspraktisyn in jou gemeenskap spreek. Jy kan ook die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) bel by 0800-70-80-90 of 011- 234- 4870 vir nog inligting en hulp.

- Janine Nel

Bronne: sadag.org, about.com, health24.com, webmd.com, mayoclinic.org