Jou bloedgroep hou dalk die goue sleutel om jou strandlyfie hierdie somer te ontsluit. Vir die volgende vier weke sal ons jou ’n bietjie meer vertel van die dieet wat die vier bloedgroepe vir ’n slank figuur moet volg. Die filosofie is dat elke bloedgroep in ’n ander era ontstaan het, en jou genetiese erfenis jou dieet moet bepaal. Ons begin met bloedgroep A. Bloedgroep A het ontstaan toe mense ontwikkel het van rondswerwende jagters en vergaarders, en hulle in permanente landbougemeenskappe gaan vestig het.  ’n Paar eenvoudige riglyne:

  • Vermy alle gerookte of verwerkte vleis.
  • Moenie gepiekelde kos eet nie.
  • Jy vaar die beste op groente. Eet soveel daarvan as moontlik.
  • Eet ten minste drie keer per dag vrugte.

Vir ’n lys wat jy mag eet en wat nie, kry Huisgenoot se Wendiëte, wat nou op die rak is. Wendiëte Ons het Margaret Ellis, ’n voedingkundige wat in bloedanalise spesialiseer, gevra om vir ons bloedgroep A-lesers ’n twee daagse eetplan op te stel wat hulle soos ’n handskoen pas. DAG 1

ONTBYT: Gekookte eier met geroosterde rog- of Esseenbrood.  Bloubessies en appelliefies met ’n bietjie gewone jogurt. Koffie of groentee.

PEUSELHAPPIE: Ryskoekie met grondboontjiebotter, met lynsade bo-oor gestrooi.

MIDDAGETE: Lensieslaai met preie, pietersielie en beetblare (moenie soetrissies bysit nie) en groenboneslaai met mange tout-ertjies, baba-ertjies en rou sampioene, met ’n olyfolie-slaaisous. Wortel-en-selderysap of groentee.

PEUSELHAPPIE: Gedroogteappelkose en ’n klein handjievol amandels. AANDETE: 120 g volstruisskyf of vis met pampoen en gestoomde broccoli.  Glas rooiwyn (opsioneel). Gemmertee of camomile-tee.   DAG 2

ONTBYT : Muesli met gerolde hawermout en gepofte rys en sojamelk, met pampoensade bo-oor gestrooi. Aalwynsap.

PEUSELHAPPIE : ’nPruim met ’n klein handjievol grondboontjies.

MIDDAGETE: Boneslaai (geen soetrissie nie). Quinoa met geroosterde botterskorsie en feta, olyfolie, suurlemoensap en pietersielie. Groentee (vermy Ceylon-tee).

PEUSELHAPPIE: Ryskoekie met soja- of bokkaas.

AANDETE: Groente-roerbraai met broccoli, spinasie, wortels, ui, knoffel, gemmer en sojasous. Voeg tofu of dun repies hoenderborsie by. Groentee of koffie.

Margaret EllisMargaret Ellis