Veral tydens die feestyd word daar swaar op die bloedbank staatgemaak. Talle ongelukke op ons land se paaie en feestydvoorvalle neem ’n stewige kwota uit die bloedbank se reserwes. Op 28 Desember 2015 was daar byvoorbeeld net 2,5 dae oor voordat die bestaande bloedvoorraad uitgeput sou wees.

Ten spyte van die gereelde oproep om bloed te skenk, bly Suid-Afrikaners maar traag om dit te doen.

Daar dringend gesoek na skenkers, veral as jy in die o-bloedgroep val. Die o-bloedgroep is die veelsydigste en kan as basis vir van die ander bloedgroepe dien.

Tog is dit belangrik om van ’n paar goed bewus te wees voor jy besluit om bloed te gaan skenk. Dit is byvoorbeeld nie nodig om te weet wat jou bloedgroep is voordat jy die eerste keer bloed skenk nie, maar neem in ag:

  • dat jy minstens 3-4 uur voor jy bloed skenk ’n goeie maaltyd moet eet;
  • dat jy op die dag dat jy bloed skenk genoeg nie-alkoholiese drankies drink;
  • dat jy ouer as 16 moet wees en meer as 50 kg moet weeg.

Dit is ook belangrik om te onthou dat elke naald wat gebruik word, geseël is en weggegooi word nadat jy bloed geskenk het.

As jy graag ’n gereelde bloedskenker wil word, moenie vergeet van die wagperiode van 56 dae tussen skenkings nie. Dit beteken jy kan elke twee maande bloed skenk.

As jy swanger is of besig is om te borsvoed, sal jy vir minstens ses maande ná jou baba se geboorte of drie maande nadat jou baba gespeen is, nie kan skenk nie.

Daarsy, nou het jy geen verskoning om te sê jy het nie geweet hoe maklik en (betreklik) pynloos dit is om bloed te skenk nie! Gaan skenk sommer vandag nog by jou naaste bloedskenkkliniek.

Nog nie gerus nie? Kyk gerus na die video vir meer volledige inligting rondom die proses van bloedskenk.

Klik hier vir meer inligting oor die SANBS.