Joga is die gekose oefening van beroemdes soos Madonna en Jennifer Aniston, en joga-uitspruitsels, soos Mikram-joga, word algemeen beoefen in gims wêreldwyd. Dit is egter nie net geskik vir soepel, jong mense nie; wetenskaplikes het bevind dat dit ook die pyn van artritis kan verlig.

Navorsers aan die Johns Hopkins-universiteit in Baltimore het ’n steekproef gehou met ’n groep van 75 mans en vroue wat aan hierdie pynlike siekte ly. Die groep is in twee verdeel: een groep het aan twee jogaklasse per week deelgeneem, plus nog ’n sessie tuis. Die res van die deelnemers het net normaalweg aangegaan.

Die artritis het ná twee maande van die joga-regime 20 persent draagliker geword. Energievlakke, stapspoed, gemoeds- en liggaamsfunksionering is ook verbeter. Die resultate is in The Journal of Rheumatology gepubliseer.

“By mense met ander siektes is bewys dat joga pyn, pynverwante ongeskiktheid en die gemoedstemming verlig,” het die navorser Clifton Bingham verduidelik.

“Maar daar bestaan geen goed beheerde proefnemings ten opsigte van joga wat vir ons kan aandui of dit veilig en doeltreffend is vir mense met artritis nie, en baie van die gesondheidskenners is bekommerd oor die manier waarop joga die kwesbare gewrigte kan raak, gegewe die klem op die verandering van houding en ook van buigsaamheid.

“Ons eerste stap was om seker te maak dat joga ’n redelike en veilige keuse is vir mense met artritis. Ons instrukteurs was kundige jogaterapeute wat bykomende opleiding ondergaan het om posisies aan te pas by individuele vermoëns.”

Alle artritislyers wat joga wil aanpak, moet eers met hul dokter gesels voor hulle begin. Hidroterapie word ook aanbeveel vir die verligting van pyn.

© Cover Media