Wetenskaplikes van die Wexner Mediese Sentrum aan die Staatsuniversiteit van Ohio het tot die gevolgtrekking gekom dat angsgevoelens al die heilsaamheid van goed eet kan neutraliseer.

Die span, gelei deur dr. Janice Kiecolt-Glaser, het ’n groep vroue, met ’n gemiddelde ouderdom van 53, ontleed.

Die vroue is almal gevra om dieselfde ontbyt – wat eiers, kalkoenwors, koekies en sous insluit – te eet, hoewel party lukraak ’n gesonder variasie gekry het wat met onversadigde vet uit sonneblomolie, wat ’n hoë konsentrasie van teenontstekings-oleïensuur bevat, berei is, en die res het ’n minder gesonde keuse gekry waar versadigde vet uit palmolie gebruik is.

Lees ook: Kenners gee raad: Hanteer só kinders se stres en angs

Die ete is gekies om ’n tipiese kitskosmaaltyd na te boots.

Die navorsers het daarna met die deelnemers gesels oor hul stresvlakke, wat gewissel het van geringe irritasies tot die hantering van ’n ouer met demensie.

Bloed is by die hele groep getrek en dis nagegaan vir ontsteking.

Lees ook: Werkstres laat jou meer eet

Die resultate het getoon by die vroue wat die gesonder ontbyt geëet het en wat stresvry was, het laer vlakke van inflammasie voorgekom, maar vir dié wat angstig gevoel het, het dit nie saak gemaak watter ontbyt hulle geëet het nie, hul vlakke van inflammasie was hoog.

“Dit bewys daar is werklik ’n wisselwerking tussen stres en die soort kos wat jy eet,” het Janice aan Daily Mail Online gesê. “Wat die vroue ook al geëet het, hul ontsteking was hoër as hulle gestres was.”

Die resultate is in die tydskrif Molecular Psychiatry gepubliseer.

© Cover Media