Wêreldwyd is die norm om van nege tot vyf te werk – so ook om aan jou lessenaar gekluister te wees vandat jy by die kantoor instap tot jy saans huis toe gaan. Maar ná amper 20 jaar se navorsing deur Britse navorsers is gevind dit kan rampspoedige gevolge vir jou gesondheid inhou om so lank te sit en selfs tot ’n vroeë dood lei.

Die span van die Universiteit van Cambridge het berig die pandemie van onaktiwiteit wat uit lessenaarwerk spruit lei tot amper 90 000 onnodige sterftes per jaar.

Die hoofnavorser prof. Ulf Ekelund en sy span het gekyk na navorsing oor meer as ’n miljoen volwassenes en bevind om daagliks agt uur lank te sit, neem die risiko vir voortydige sterfte met tot 60 persent toe.

Die span beweer ’n onaktiewe leefstyl hou nou net so ’n groot risiko vir jou gesondheid in soos rook en kan tot hartsiekte, beroerte, kanker, tipe-2-diabetes en demensie lei.

Die uitslae is in die mediese tydskrif Lancet gepubliseer. Ook is bevind die deursnee-mens kyk drie uur lank televisie wanneer hulle by die huis kom. Dit lei daartoe dat 37 persent Britse volwassenes minder as 30 minute per dag op hul voete deurbring.

Die Britse nasionale gesondheidsdiens beveel aan volwassenes tussen 19 en 64 jaar moet daagliks aktief wees – hulle moet 150 minute matige aërobiese oefeninge elke week voltooi, asook kragoefeninge minstens twee keer per week.

“Vir (kantoorgebonde) mense in die besonder kan ons nie genoeg die belangrikheid beklemtoon van oefening nie, of dit nou is om etenstyd ’n ent te gaan stap, soggens te gaan draf of met die fiets werk toe te ry,” sê Ulf.

“Groot kommer bestaan oor die gesondheidsrisiko’s wat met vandag se onaktiewe leefstyl in verband gebring word. ’n Uur se liggaamlike aktiwiteit per dag is ideaal, maar as dit nie haalbaar is nie, kan ’n bietjie oefening elke dag die risiko help verminder.”

Hy voeg by dit is ook voordelig om elke uur op te staan en vyf minute lank rond te stap.

© Cover Media