Die jongste gesondheidsgier is ’n laekoolhidraat- en glutenvrye plaasvervanger vir gewone brood. Anders as tradisionele brood, bevat dit geen meel of gis nie. Pleks daarvan word dit gemaak van eiers, roomkaas, kremetart en ’n pakkie versoeter. Dit bevat ook baie proteïen.

“Dit word gemaak deur eierwitte saam met kremetart te klits om dit ’n donsige tekstuur (vandaar die naam) te gee en dan sagkens by ’n mengsel van eiergele, roomkaas en versoeter in te vou,” verduidelik Edwina Clark, hoof van voeding en welstand by Yummly.

“Wolkbrood bevat verskeie voedingstowwe wat nie in tradisionele brood voorkom nie, onder meer vitamien A, vitamien D, fosfor, kolien en seleen,” sê Edwina.

“Hierdie voedingstowwe ondersteun oë, bene, metabolisme, kognitiewe werking en immuniteit.” Maar is hierdie laekoolhidraat-opsie regtig goed vir jou?

Die voordele

“As jy minder koolhidrate en kalorieë probeer inneem, is wolkbrood nie so ’n slegte keuse nie,” sê die geregistreerde dieetkundige en voedingkundige Karen Ansel. Dit is ook ’n goeie keuse vir diegene wat weerstandig is vir gluten. “Wolkbrood is beslis beter vir mense met ’n ernstige glutenweerstandigheid of koring-allergie, wat hul koolhidraatinname moet dophou of wat net ’n laer-kalorie-opsie vir hul kalkoentoebroodjies soek,” sê die dieetkundige Lisa Moskovitz.


Die nadele

Soos jy dalk afgelei het, bevat wolkbrood veel meer vet as gewone brood (veral as dit met roomkaas gemaak word). Byvoorbeeld: ’n Porsie van twee snye van die roomkaasweergawe bevat 6 g vet en amper 3 g versadigde vet.

Wolkbrood bevat ook minder vesel.

“Koolhidrate gee die brein brandstof en laat spiere werk. Dis veral belangrik voor en ná oefening,” sê Edwina.

“As jy dit oorweeg om koringbrood vir wolkbrood te verruil, maak seker jy neem ander vorme van koolhidrate in, soos vrugte, veselryke ontbytpappe en quinoa. Doen dit voor en ná oefening om moegheid af te weer.”

Die smaak verskil ook van dié van gewone brood.

“Kyk na die bestanddele. As jy verwag dit moet soos regte brood proe, sal jy waarskynlik teleurgesteld wees,” maan Lisa.

“Vir mense wat hou van brood, is dit nie ’n goeie plaasvervanger nie,” sê die dieetkundige Deborah Malkoff-Cohen. Sy voeg by dit kan geskik wees vir mense wat minder koolhidrate wil inneem.

“Soos alle plaasvervangers het dit in enige dieet ’n plek, mits jy voedingsryke kosse soos vrugte en groente ook eet.”

Bronne: womenshealth.com, yahoo.com, metro.co.uk