Wetenskaplikes glo dié wat die vroeë waarskuwingstekens toon van ’n skeelhoofpyn (bekend as migraine-aura), soos flitsende ligte, het ’n groter risiko. Dis weens ’n wanfunksie in die breinboodskapper dopamien, maar navorsers sê die risiko is nogtans laag.

Terwyl die presiese oorsake van migraine nog onbekend is, toon syfers van die Britse nasionale gesondheidsdiens een uit vyf vroue en een uit 15 mans ly aan skeelhoofpyne, wat gewoonlik in vroeë volwassenheid begin.

Dis vermoedelik weens veranderinge in die chemikalieë en bloedvate in die brein. Sowat die helfte van almal wat aan migraines ly, het ook ’n nabye familielid met die toestand, wat daarop dui gene speel dalk ’n rol.

Die uitslag van die studie is aanlyn gepubliseer in die Amerikaanse Akademie vir Neurologie se vaktydskrif, Neurology. Altesaam 5 620 mense tussen die ouderdom van 33 en 65 is oor 25 jaar bestudeer. Aan die begin van die studie het 3 924 mense geen hoofpyn ervaar nie, 1 028 het hoofpyn sonder migraine-simptome gekry, 238 migraines sonder aura en 430 het migraines met aura.

Namate die studie verloop het, is die deelnemers ondersoek vir enige simptome van Parkinsonsiekte, het hulle ’n diagnose van dié siekte gekry of simptome getoon van rustelosebene-sindroom, oftewel Willis-Ekbom-siekte.

Altesaam 2,4 persent van dié wat skeelhoofpyn met aura kry, het die siekte opgedoen, vergeleke met 1,1 persent van dié sonder hoofpyn. Mense wat migraine met aura kry, is 3,6 keer meer geneig om minstens vier of ses simptome van Parkinsonsiekte te toon, terwyl dié wat skeelhoofpyne sonder aura kry, 2,3 keer so geneig is om die simptome te toon.

Oor die algemeen het sowat ’n vyfde van dié wat migraines met aura kry, simptome getoon, vergeleke met net meer as ’n tiende van dié wat migraines sonder aura kry en net minder as ’n tiende van dié sonder hoofpyn. Vroue wat migraines sonder aura kry, is ook meer geneig om ’n familiegeskiedenis van Parkinsonsiekte te hê.

Dr. Ann Scher van die Uniformed Services-universiteit in Bethesda, Maryland, sê: “Migraine is die algemeenste breinafwyking by mans en vroue. ’n Wanfunksie in die breinboodskapper dopamien is algemeen by Parkinsonsiekte, sowel as rustelosebene-sindroom; dit is al baie jare voorgehou as ’n moontlike oorsaak van skeelhoofpyn.

“Migrainesimptome, soos uitermate gaap, naarheid en braking, is vermoedelik verwant aan die stimulering van dopamienreseptore,” sê sy. “Nog navorsing moet deur middel van genetiese studies na hierdie moontlike verband kyk. Terwyl die geskiedenis van migraines vereenselwig word met ’n verhoogde risiko vir Parkinsonsiekte, is dié risiko nog betreklik laag.”

© Cover Media