Meer as 47 000 Suid-Afrikaners gaan binne die volgende 365 dae 'n hartaanval kry. Hul hartvate is op hierdie oomblik op pad na verstopping. Die meeste besef dit nie. Net vandag sal 33 mans en vroue 'n hartaanval kry en onmiddellik sterf

Deur Marí Hudson

DAAR staan die manne, ingehaak by hul pel op sy vyftigste verjaardag. Hulle is Michael du Toit, Schalk Burger sr., voormalige Springbokslot en pa van die Bokfl ank Schalk Burger, Nico Rossouw, Chris Faure, self 'n rugbyspeler op sy dag, Jannie Olivier, Joe Terblanche, wie se verjaardag dit was, en Lourens Steyn.

Die foto links is twee jaar gelede geneem. Dit was 'n goeie dag vir Joe. Hy was omring deur sy beste vriende, sy vrou en tienerseuns op die plaas Welgegund, net duskant die Bainskloofpas anderkant Wellington. "Ek het daai dag gedink: Ek is 'n gelukkige man, ek is gesond en die lewe is goed vir my."

MAAR Joe was op daardie dag in Desember 2004 onbewus daarvan dat vyf van sy hartvate al erg verstop is. En dat hy 22 maande later 'n nood-hartvatomleidingsoperasie sou ondergaan.

Die operasie en die besef dat sy hart hom in die steek kan laat, het sy lewensuitkyk dramaties verander. Vandag, elf maande ná sy hartoperasie, is hy nog soms bang om saans aan die slaap te raak. Netnou hou sy hart in die nag op klop. Joe is die eerste van sy vriendekring, wat ou universiteits-, rugby- en gholfpelle insluit, wat 'n hartvatomleiding moes kry. Maar hy is gewis nie al een op die verjaardagfoto in wie se borskas 'n onsigbare proses al aan die gang was nie.

Volgens die wet van Suid-Afrikaanse gemiddeldes is die kans goed dat een uit drie van die vriende op die foto reeds hartprobleme het, al weet hulle dit dalk nie.

Die meeste mense wie se hartvate reeds aan die verstop is, is sonder simptome. Hulle voel gesond, doen dinge wat gesonde mense doen, en neem daarom aan dat hul hart gesond is.

Dis presies wat met Joe gebeur het. Sy hartprobleme het uit die bloute gekom, sê hy.

"Ek het gereeld gholf gespeel, en was dan verlede jaar in Mei nog met die Dads versus Lads-wedstryd op die hokkieveld. Van my pelle het nie eens daarvoor kans gesien nie, maar ek het daar agter die bal aangehol."

'n EKG kort voor die hokkiewedstryd deur sy huisdokter het immers getoon dat daar niks skort met sy hart nie. Twee maande later in Johannesburg het hy die eerste waarskuwingstekens gekry, maar dit nie besef nie. Dit was 'n lam gevoel in sy arm en sy gebruiklike sooibrand. Toe die lamheid ná 'n rukkie opklaar, het hy gemeen als is in die haak.

Maar toe hy vroeg in Augustus verlede jaar dieselfde simptome kry terwyl hy langs sy huisdokter op die oefenfi ets in die gim trap, het dié gesê hy moet by 'n kardioloog uitkom.

Die angiogram het onteenseglik gewys dat vyf van sy hartvate verstop is. Daar was te veel vernouings om stents te oorweeg en die vernouings was nie sommer eff entjies nie, maar groot menere. As 'n klein stolseltjie Dop enige van vyf plekke in sy kroonare sou vassteek, sou hy oombliklik 'n hartaanval kry.

Tyd was nou van kardinale belang, maar Joe wou eers die naweek huis toe om te dink en die skok te verwerk.

"Dit was die langste naweek in my lewe," sê hy, haal sy bril af en vryf stadig met sy vingers oor sy oë. "Ek was verskrik en bekommerd, en het aan honderde dinge gedink.

Ek wou my kinders sien grootword en nog baie dinge saam met my vrou doen." Sy blik dwaal na buite, en dit lyk of hy deur die wingerde en Bolandse berge kyk.

Die week of wat ná die hartvatomleidingsoperasie in die Panorama Medi-Clinic het in 'n waas verbygegaan. Terug by die huis, het nuwe aanpassings gewag. "Jy herstel vinnig, maar tog kan jy skaars vyf treë loop. By die huis wil jy gewone dinge doen, maar jy raak te moeg. En jy is te bang om jou hart te vertrou. Die nagte was die ergste.

"My gevoelens het wipplank gery. Depressie, angstigheid, frustrasie, woede, vrees en magteloosheid is in een bondel gerol."

Dis algemeen dat die meeste hartpasiënte depressie ervaar en dat baie mense se depressie en emosies na vore kom as humeurigheid. Dit was ook die geval met Joe. (Lees ook die boekuittreksel oor depressie en hartsiekte op bl. 137.)

"Ek het ná 'n paar maande besef ek sal moet skietgee vir my vrou en kinders se onthalwe. My humeur was iets ysliks," sê die innemende man.

Sy gesprekke met 'n berader, vriende en ander wat in dieselfde bootjie is, het gehelp om hom rustiger te maak. "Mens moet besef dat al lyk jy 'n paar maande ná die operasie gesond en gereed vir die lewe, het die ding 'n uitwerking op jou emosies.

"Sekere dinge sal nooit weer dieselfde wees nie. Maar die ding wat die meeste verander het, is my manier van dink. Ek is baie meer bewus van die lewe."

Hoewel Joe se hartprobleme oënskynlik uit die bloute gekom het, het hy – soos baie Suid-Afrikaners – 'n familiegeskiedenis van en risikofaktore vir hartsiektes. Sy pa het wel op 79 net 'n "bietjie suikerprobleme", maar twee van sy pa se broers is dood aan hartaanvalle.

Van die bemoedigendste nuwe navorsingsinligting wat die afgelope tyd aan die lig gekom het, is dat hartsiektes gekeer kan word selfs al word 'n mens met die slegste hartgene denkbaar gebore. Sekere dinge wat jy doen, kan keer dat foutiewe hartgene ooit aangeskakel word, sê dr. Maritha Kotzé, 'n Kaapse genetikus.

Na raming het minstens 40 persent van die Suid- Afrikaanse bevolking een of meer foutiewe hartgene wat deur rook of ander verkeerde gewoontes aangeskakel kan word. Rook kan selfs mense met gesonde hartgene se kans op 'n hartaanval verhoog. Die gevaar is nog groter wanneer verskeie risikofaktore saamgevoeg word, sê sy.

Dr. Krisela Steyn van die Mediese Navorsingsraad (MNR) maak in 'n nuwe verslag oor hartsiektes bekend dat 'n mens se risiko vir hartsiektes nie drievoudig toeneem as jy drie risikofaktore het (soos byvoorbeeld rook, hoë cholesterol en hoë bloeddruk) nie, maar negevoudig.

Joe rook sedert sy universiteitsdae sigare. Hy het dit met die angiogram-skoknuus net so gelos.

Dan neem hy al ses jaar lank medikasie vir hoë bloeddruk en 'n hoë bloedcholesterolvlak. "Ek het nie toe groot genoeg geskrik nie. Ek het nie besef my hartvate is al aan die toegaan nie.

"As 'n dokter vir jou sê jou bloedcholesterolvlak is hoër as normaal, en hy gee vir jou 'n pilletjie vir jou cholesterol en een vir hoë bloeddruk, sluk jy die pilletjies en dink dis maar deel van die lewe.

Ek het nie daaraan gedink om op te hou rook nie. Ook nie om regtig my manier van lewe, eet en oefen te verander nie. Dit het nie tot my deurgedring dat ek op pad is na 'n hartaanval nie."

Eers nadat die angiogramme gewys het presies hoe verstop sy hartvate is, het Joe sy lewenstyl verander. "Ek probeer nou om die vet van my braaitjops af te sny en eerder 'n vrug te eet as 'n koeksister. Klein dingetjies kan 'n verskil maak."

Hartsiektes neem toe

Elke jaar kry meer as 47 000 Suid-Afrikaners 'n hartaanval.

'n Kwart van hulle – sowat 12 000 – sterf onmiddellik. Voortydige sterftes weens hart- en bloedvatsiektes gaan tussen 2000 en 2030 met 41 persent toeneem, skryf dr. Krisela Steyn, navorser van die MNR, in 'n nuwe verslag oor hartsiektes in Suid-Afrika.

Hartgene-kennis kan 'n lewe red

'n Handvol gene speel 'n rol in jou hartgesondheid.

Om 'n pasiënt se gene te ken, is om vir die dokter 'n nuwe bril op te sit wat hom binne-in jou selle kan laat sien sodat hy die regte "medisyne" kan kies, beskryf die genetikus dr. Maritha Kotzé die jongste internasionale navorsingsinligting.

Die cholesterolverlagende middels statiene kan byvoorbeeld mense met een soort hartgeen se lewe red, maar sal min help vir iemand met 'n ander soort hartgeen. 'n Dieet met min trans- en versadigde vette lewer weer verstommende resultate in die tweede geval.

Van die belangrikste hartgene wat tot dusver ontdek is, is die FH- en die ApoE-gene, asook die gene wat 'n rol speel in die bloedstollingsproses en in ysteroorlading. FH kom veral onder Afrikaanse, Joodse en Indiese families voor.

Tussen een uit sewentig en een uit honderd mense uit dié groepe het 'n defektiewe FH-geen.

Mense met dié geen se kans op 'n hartaanval is vyf tot tien keer groter as enigiemand anders s'n. Mans met die foutiewe FH-geen kry gemiddeld op 45 jaar 'n hartaanval en sterf as hulle nie die regte behandeling ontvang nie.

'n Ontstellende 30 – 40 persent van alle Suid-Afrikaners dra 'n veranderde ApoE4-hartgeen wat die risiko vir 'n hartaanval met ongeveer 40 persent verhoog.

Die meeste Suid-Afrikaners besef nie dat hulle dié gene dra en dat dit deur sekere faktore aangeskakel kan word nie. Die veranderings in die hartvate vind stilweg plaas.

Wie kan baat vind by 'n hartgene-toets?

Dis nou regtig nie nodig dat elke mens sy hartgene laat toets nie, maar dit kan die volgende mense se lewe red omdat dit jou behandeling kan bepaal:

Mense met 'n persoonlike of familiegeskiedenis van hartprobleme.

Mense met 'n hoë cholesterolvlak, tipe 2-diabetes, en diegene wat oorgewig is, 'n chroniese infl ammatoriese siekte of hoë bloeddruk het en rook.

Mense met 'n familiegeskiedenis van Alzheimer-siekte, want dit is aan hartgene gekoppel.

Mense met 'n persoonlike of familiegeskiedenis van veneuse trombose, vroue met herhaalde miskrame en vroue wat hormoonvervangingsterapie oorweeg.

SKAKEL JOU RISIKO AF

Nege maniere waarop jy jou hartaanval kan voorkom

As jy een van die nagenoeg 40 persent van die bevolking is wat met slegte hartgene gebore is, kan jy werklik keer dat dit – soos 'n lig – aangeskakel word. En as jy met goeie hartgene gebore is, kan jy ook jou hartvate teen skade beskerm deur sekere van jou gewoontes te verander.

Baie van die faktore lei tot 'n lae vlak van infl ammasie in die bloedvatwande, en hierdie rooi en geswelde binnewande is dan uiters vatbaar vir verdere skade deur die ander faktore.

Hier is jou negepuntplan, saamgestel uit inligting deur Harvard-navorsers, hartspesialiste van die Mayo-kliniek en Suid-Afrikaanse navorsers.

1. As jy rook, hou op met rook, hetsy dit sigare, sigarette, laeteer of "ligte" sigarette is.

Rook is een van die belangrikste faktore wat alle hoërisiko-hartgene aanskakel.

Dit beskadig verder die binnewande van bloedvate so erg dat die vate verstop kan raak.

As jy ophou rook, daal jou risiko vir 'n hartaanval binne drie jaar. Rokers wat ouer as sestig is, kan vyf tot sewe jaar by hul lewe voeg deur op te hou rook. Passiewe rook is ook 'n belangrike risikofaktor.

2. Doen oefening.

Dit hou minstens twintig verskillende gesondheidsvoordele in.

Oefening maak die hartvate sterker en oper, dien as stresontlaaier en bekamp oorgewig. Fiksheid kan jou risiko vir hartsiektes met 'n derde verminder. Onfiksheid is selfs 'n groter gevaar vir jou hart as om oorgewig te wees. Probeer om minstens twee uur per week te oefen.

3. Beheer jou gewig.

Hoe vetter jy is, hoe dikker is die vetlaag om jou hart en ander organe. Mense met 'n appelvormige lyf – die manne met die boepe – het 'n groter risiko vir hartsiektes as iemand met 'n peervormige lyf.

4. Eet van jongs af kos wat min versadigde en transvette bevat.

Dit keer dat 'n spesifieke hartgeen aangeskakel word. (Om te weet watter kos baie transvette bevat, lees ons artikel op bladsy 48 in Pols nou beskikbaar.)

5. Eet minstens drie keer per week vis en ander kos wat baie omega- 3-vetsure bevat.

Kies haring, makriel, tuna, sardyne, forel, salm en ander olierige vis. Hierdie "goeie'" vette kan jou risiko vir bloedstolling en diep veneuse trombose verminder. Boonop laat dié vette jou gouer versadig voel.

6 Eet meer vars groente en vrugte, veral sitrusvrugte, spinasie en ander groen, blaarryke groente, want hulle bevat baie vitamien B en foliensuur wat mense met hoë cholesterolvlakke se hart kan beskerm. (Iemand wat reeds 'n hartaanval gehad het of diabetes het, sal egter nie baat vind by foliensuuraanvullings nie.)

7. Eet meer veselkos soos hawermoutpap.

Tien gram ruvesel per dag kan jou risiko vir 'n hartaanval met 20 persent verlaag.

8. Ken jou tellings en hou dit in toom.

As jy jou bloeddruk van 140/90 mm Hg kan verlaag tot 120/80 mm Hg, kan jy jou risiko van 'n beroerte halveer. Met elke breuk wat jou slegte LDL-cholesterolvlak daal, daal jou risiko vir 'n hartaanval ook. As een bloeddrukmiddel se neweeffekte jou pla, gesels met jou dokter sodat jy 'n ander een kan probeer. Moenie net jou middels staak omdat jy lus het nie.

9. Leer om stres te verwerk.

Dit lyk ál meer of langdurige stres ook die bloedvatwande vatbaarder maak vir skade.

Vroue met hartprobleme trek aan kortste ent

Vroue met hartprobleme kry swakker mediese sorg as mans.

Die ongelykheid in die behandeling tussen mans en vroue eis die lewe van baie vroue, wat gouer en beter mediese behandeling verdien, sê die Kaapstadse hartchirurg dr. Susan Vosloo.

Baie studies bewys dat vroue se hartsiektes toegelaat word om te ver te vorder omdat pasiënt en dokter nie bedag genoeg is op hartprobleme in vroue nie.

Die simptome by vroue is dikwels vaag. Hopeloos te veel gevalle van hartaanvalle by vroue word verkeerdelik gediagnoseer as spysverteringsprobleme of depressie.

Dokters laat ook vroue se hartprobleme verder vorder voor hulle aspirien en ander voorkomende middels voorskryf. Selfs as vroue borskaspyn kry, word hulle nie so gou na 'n noodeenheid gebring as mans nie.

En wanneer hulle by die noodeenhede opdaag, doen die dokters nie gou genoeg of glad nie 'n EKG op dié vroue nie. Dit duur ook langer voor dokters antistolmiddels vir 'n vrou met 'n hartaanval gee as vir mans.

'Al meer vroue ontwikkel hartprobleme. Tog word dit nie gou genoeg gediagnoseer nie'

Watter vroue het die grootste risiko vir hartsiektes?

VROUE . . .

wat rook, het gemiddeld negentien jaar vroeër 'n hartaanval as vroue wat nie rook nie.

met diabetes het 'n twee tot drie keer groter kans om 'n hartaanval te kry.

wat op die Pil is, rook en ouer as 35 jaar is, het 'n groter kans op hartsiektes.

wat onaktief is.

wat oorgewig is: dit is twee uit vyf Suid-Afrikaanse vroue.

wat hormoonvervangingsterapie ontvang. Geen vrou behoort HVT te gebruik om kamma haar risiko vir hartsiektes te verlaag nie.

So werk dit . . .

Die proses van bloedvatverstopping tot 'n hartaanval geskied in ses stappe.

Die cholesterolmolekules dring deur die voeringlagie van die bloedvat en pak in die wand saam.

Die immuunstelsel stel vegterselle (die makrofaagselle) vry wat letterlik die cholesterol insluk. Die vegterselle vol cholesterol word skuimselle genoem.

Die skuimselle koek saam en vorm 'n groot stuk harde aanpaksel binne-in die bloedvatwand. Teen jou vroeë twintigs kan die plaak al die bloedvat 25 persent verstop.

In 'n desperate poging om die binnekant van die bloedvat glad te hou, vorm die liggaam gladdespierselle ('n soort kapsel) bo-oor die skuimselle. By 45-jariges kan die plaak al 50 persent van die bloedvat verstop hê.

Die skuimselle skei chemiese stowwe af wat die kapsel verswak. Dis nou net 'n kwessie van tyd voor die kapsel gaan meegee.

Hartaanval! Sodra die kapsel bars, stroom die plaakstukke die bloedstroom binne. Bloedstolsels vergader om hierdie stukkies aanpaksels en dit steek gou-gou vas in die vernoude bloedvat.

911 As 'n mens benoud voel, skielik moeg is of 'n sooibrandgevoel oor jou maag en bors het, veral ná oefening, kan dit 'n anginaof 'n hartaanval wees. Jy moet beslis nie eers wag en kyk of die sooibrand 'n hartaanval is of nie. Toediening van 'n stolsel-oplosser binne drie tot vier uur kan 'n lewe red en die kans vergroot dat die pasiënt sonder hartskade herstel, sê dr. Elwyn Lloyd, 'n Kaapstadse kardioloog.

Heart centre

Die storie het oorspronklik in die eerste uitgawe van Pols tydskryf verskyn. Koop die nuutste uitgawe op 'n winkelrak naby jou vir meer fassinerende stories in die wêreld van gesondheid.