43 persent van Amerikaners het gesê hulle kry nie genoeg slaap om risiko’s te verminder wat veiligheid by die werk en op die pad in gevaar kan stel nie, het 'n nuwe ondersoek deur dié land se nasionale veiligheidsraad bevind. Dit sluit in die vermoë om helder te dink, ingeligte besluite te neem en produktief te wees. 

Langer werkure sonder genoegsame ruskanse, laat snags of vroeg soggens werk en lang pendeltye is die algemeenste redes vir die moegheid.

Daarby het 76 persent gesê hulle voel moeg by die werk, 53 persent voel minder produktief en 44 persent sukkel om te konsentreer. En 47 persent het erken hulle raak by die werk aan die slaap. 

“Die bevindinge is letterlik ’n wekroep: Wanneer ons moeg is, kan ons onsself en ander in gevaar stel,” sê Deborah A.P. Hersman, voorsitter en uitvoerende hoof van die organisasie."

“Ons hoop Amerikaners besef die onvermoë om arbeid te verrig spruit nie net uit drank en dwelms nie, maar ’n gebrek aan verkwikkende rus – geskiktheid vir diens begin met ’n goeie nagrus.”

Tot 13 persent van beserings by die werkplek en 21 persent van noodlottige motorongelukke word aan ’n gebrek aan slaap toegeskryf.

Swak rus kan ook tot gesondheidsprobleme en selfs selfdood lei.

In ’n afsonderlike peiling deur Sealy in Brittanje en die Loughborough-universiteit se navorsingseenheid oor kliniese slaap is ook bevind 77 persent van Britse volwassenes kry nie ’n goeie nagrus nie. Ten einde dit te help bekamp het die matrashandelsmerk Sealy wenke gepubliseer oor hoe om ’n beter nagrus te kry.

Hou by jou slaappatroon

“Dit is belanrgik om op dieselfde tyd as gewoonlik op te staan en te sorg dat jy ’n uur vroeër gaan inkruip. Roetine is allerbelangrik wat jou liggaamshorlosie betref – en, ja, dit sluit naweke in!” het Sealy se slaapkenner, Holly Housby, aan Cover Media gesê. 

Kies die regte duvet

Oorweeg dit om ’n ander duvet vir die onderskeie seisoene te kry, want hoe hoër die duvet se tog-telling is, hoe warmer is dit. 

Let op wat jy drink

Sowel alkohol as kafeïen voor slaaptyd kan ’n slegte nagrus tot gevolg hê. Dink dus mooi oor wat jy saans drink. 

Raak fiks en gesond

Gereelde oefening sal jou energievlak hoog hou en jou saans moeër laat voel. Gesonde eetgewoontes sal ook jou algemene energievlak ’n hupstoot gee. Sorg dus dat jy ’n voedsame en gesonde dieet volg.