Ons almal ken daardie verfrissende smaak van ’n gaskoeldrank wanneer jy regtig dors is.

Daarby is dit geen geheim dat gaskoeldrank glad nie goed is vir jou gesondheid nie.

’n Amerikaanse apteker, Niraj Naik, het onlangs ’n insiggewende artikel geskryf oor presies wat met jou liggaam gebeur in die eerste uur nadat jy ’n gaskoeldrank gedrink het.

Niraj skryf hy het besluit om mense hieroor in te lig nadat hy agtergekom het hoeveel mense sukkel om gewig af te skud, al volg hulle ’n streng laevetdieet.

“Nadat ek soveel mense gesien het wat sukkel met vetsug en die gepaardgaande mediese toestande soos diabetes en hartsiektes, het ek besluit om ondersoek in te stel oor wat die ware oorsaak hiervan is.”

Sy bevindinge was dat daar een spesifieke bestanddeel in geprosesseerde kos is wat die grootste gesondheidsgevaar inhou: verwerkte suiker.

En gaskoeldrank is propvol verwerkte suiker.

Hier is sy verduideliking van wat met jou gebeur as jy ’n enkele 330 ml-blikkie daarvan drink. Maar pasop: dit kan jou dalk nooit weer aan dié tipe soet koeldrank laat raak nie.

In die eerste 10 minute nadat jy ’n gaskoeldrank gedrink het, tref 10 lepels suiker jou sisteem. Dit is 100 persent van jou aanbevole daaglikse inname van suiker. Jy gooi nie dadelik op van die oorweldigende soetheid nie, want die fosforsuur demp die geur wat jou toelaat om dit af te sluk.

Ná 20 minute: Jou bloedsuikervlakke skiet die hoogte in, wat dadelik baie insulien vrystel. Jou lewer reageer deur enige suiker wat dit kan opspoor, dadelik in vet te verander (en daar is baie suiker tot sy beskikking).

Ná 40 minute: Die absorpsie van die kafeïen in die koeldrank is voltooi. Jou pupille vergroot, jou bloeddruk styg en as ’n gevolg pomp jou lewer meer suiker in jou bloedstroom in. Reseptors in jou brein is geblokkeer, wat keer dat jy duiselig word.

Ná 45 minute: Jou liggaam vervaardig meer dopamien, ’n neurotransmitter in jou brein. Dit stimuleer die plesierareas in jou brein. Terloops, dit is hoe heroïen werk.

Ná ’n uur: Die fosforsuur bind met kalsium, magnesium en sink in jou dikderm en dit gee jou metabolisme ’n hupstoot. Die diuretiese eienskap van die kafeïen beteken dit is tyd om ’n draai te gaan loop. Die suiker bind egter ook met die kalsium, magnesium en sink en pleks van met jou gebeente bind, spoel jy dit in die toilet af.

Ná nog ’n halfuur of so: Die euforie wat die suiker geskep het, is besig om te daal en jy beleef ’n suiker-ineenstorting. Jy kan dalk geïrriteerd en traag voel. Jy het ook reeds letterlik al die water in die gaskoeldrank in die toilet weggespoel. Saam met dit ook waardevolle minerale wat jou liggaam kon help om jou gebeente en tande te versterk.

Biljoene blikkies gaskoeldrank word elke dag verkoop. Dalk moet jy hierdie feite onthou volgende keer wat jy na nog ’n blikkie gaskoeldrank gryp!

Bronne: news.com.au; truththeory.com; blisstree.com