As jy glo jy het al alles moontlik oor diëte gelees, dink jy waarskynlik drie etes per dag gee die deurslag, ontbyt is die belangrikste maaltyd en ’n gepeusel is absoluut verbode.

Dalk het dit tyd geword om dié idees te heroorweeg en jou eetgewoontes effens aan te pas.

Die historikus Abigail Carroll wil die mite die nek inslaan dat drie etes per dag – soggens, smiddae en saans – al manier is om gesond te eet.

Sy beweer op die webtuiste Mother Jones die idee was eintlik ’n kulturele opvatting wat Europese nedersetters op Amerikaanse Indiane afgedwing het.

In haar boek Three Squares: The Invention of the American Meal skryf sy om op vasgestelde tye te eet, is as verfynd beskou, terwyl vas en om etes volgens seisoen aan te pas, as ouderwets gesien is.

Daar is al heelwat bewyse dat ontbyt eintlik nie gesondheid en gewigsverlies bepaal nie. Daar is verlede jaar in ’n studie deur die Universiteit van Bath ondersoek of dit ’n uitwerking op kilojoule-inname die res van die dag het as iemand ontbyt eet of oorslaan. Die studie het gelui: “In teenstelling met die algemene opvatting was daar geen metaboliese aanpassing met ontbyt nie, met beperkte gevolglike onderdrukking van die eetlus.”

Daar is al heelwat bewyse dat ontbyt eintlik nie gesondheid en gewigsverlies bepaal nie.

Dít druis in teen vorige raad dat ontbyt die metabolisme aanhelp en sal keer dat jy later peusel, hoewel dit natuurlik beter is om soggens eers iets gesonds te eet as om jou later aan skyfies en koekies te vergryp.

Of jy drie groot etes of meer kleiner maaltye verkies, is ’n persoonlike keuse en sal nie noodwendig ’n verskil aan gewigsverlies maak nie. Om ses etes deur die dag te eet wat jou metabolisme aan te gang hou, is veral voordelig vir enigeen wat met lae bloedsuikervlakke sukkel.

As jou maag tussendeur maaltye grom, kan jy dit oorweeg om twee of drie kleiner happies saam werk toe te neem. Solank elke porsie net sowat 1 250 kilojoules bevat, behoort jou middel dieselfde te bly.

En mense wat dink om te vas klink na ’n goeie idee, kan kers opsteek by aanhangers van die 5:2-dieet waartydens jy twee dae per week jou kilojoule-inname tot 2 100 beperk en dan die orige vyf dae normaal eet.

Wanneer jy eet, blyk een van die minder belangrike dele van gewigsverlies te wees. Konsentreer liewer daarop om oefening by jou dag in te werk en hou jou etes so gebalanseerd moontlik. En verder kan jy net doen wat reg voel vir jou lyf.

© Cover Media