Ons is nog altyd aangemoedig om ons tande te vlos, maar volgens ’n kundige doen dit moontlik meer kwaad as goed.

Tandartse steek dikwels preke af oor die gereelde gebruik van tandvlos om hardnekkige stukkies kos en plaak uit jou mond te verwyder. As hierdie oorblyfseltjies agtergelaat word en vermeerder, kan dit inflammasie veroorsaak, die tandvleis irriteer en tot infeksie en siektes lei.

Dit is egter een van die minder gewilde takies as dit kom by ons tande skoon en gesond hou, en slegs 20 persent van die bevolking vlos hul tande gereeld. ’n Vooraanstaande tandheelkundige beweer nou die moeilike – en soms pynlike – gebruik kan inderwaarheid ’n mors van tyd wees, want die meeste van ons doen dit verkeerd.

’n Vooraanstaande tandheelkundige beweer nou die gebruik kan inderwaarheid ’n mors van tyd wees

Robin Seymour, emeritusprofessor in tandheelkundige wetenskappe aan die Universiteit van Newcastle, het gewaarsku as ons nie behoorlik vlos nie, beskadig ons ons tandvleis en verhoog so die risiko vir tandvleissiektes.

“Moet my nie verkeerd verstaan nie: as jy reg vlos, is dit ’n fantastiese manier om ontslae te raak van die plaak tussen die tande en onder die tandvleis,” het hy volgens MailOnline gesê. “Maar om te vlos moet jy die vlos baie behendig in jou mond manipuleer – veral agter in die mond – en die meeste mense het eenvoudig nie daardie vaardigheid nie.

“Pleks van die plaak verwyder, stoot te veel mense dit tussen hul tande onder die tandvleis in en los dit daar – die laaste ding wat jy eintlik wil doen. Nog ’n algemene fout is om die vlos vorentoe en agtertoe te trek in ’n saagbeweging; dit verwyder nie die plaak behoorlik nie en kan die tandvleis irriteer.”

Robin meen aangesien dit so moeilik is om jou tande behoorlik te vlos, moet alternatiewe oplossings oorweeg word om jou mond gesond te hou.

Hy is ten gunste daarvan dat jy jou tande behoorlik borsel, verkieslik met ’n elektriese tandeborsel, en daarna met ’n borsel wat ontwerp is om tussen die tande skoon te maak.

Alkoholvrye antiseptiese mondspoelmiddels is ook nuttig in die stryd teen plaak en die opbou van oorblyfsels. Robin beveel aan dat jy die oplossing in jou mond rondspoel en dit met jou tong tussen jou tande instoot.

Hy beklemtoon sy wenke is aansienlik makliker om te bemeester en dat mense dit meer geredelik sal doen.

© Cover Media