Maar buiten dat genoeg slaap jou uitgerus laat voel, kan dit ook siektes soos kanker voorkom.

Gesondheidskenners raai mense nou aan om verdonkeringsgordyne in hul slaapkamer te hang en elektroniese toestelle voor slaaptyd te vermy. Dit sal keer dat jou liggaamsritme versteur word. Dié versteuring is al met gesondheidsprobleme soos kanker, diabetes, vetsug en depressie in verband gebring. ’n Mens se liggaamsritme reageer op die daaglikse patroon van sonlig wat ons interne hormoonvervaardiging, metabolisme, gene en selfs liggaamstemperatuur reël. Die ontwrigting van ons interne patroon is al met die onderdrukking van die vervaardiging van melatonien in verband gebring. Melatonien is die hormoon wat borsgewasse in toom hou. Ondersoeke het al getoon vroulike nagskofwerkers het ’n groter kans op borskanker.

'Die belangrike punt is dat nagtelike blootstelling aan die donker, net soos slaap, belangrik is vir welstand.'

“Die belangrike punt is dat nagtelike blootstelling aan die donker, net soos slaap, belangrik is vir welstand,” sê dr. Richard Stevens, ’n navorser oor borskanker van die Universiteit van Connecticut.

“Die belangrikheid van slaap het eindelik die hoofstroomdenke en -praktyk binnegekom, maar die belangrikheid van donker word steeds grootliks onderskat.”

Richard voeg by ons moet die skemering “waardeer” en stel voor jy verdof huisligte saans om die liggaam vir slaap gereed te kry.

Sy raad is in die vaktydskrif Philosophical Transactions B gepubliseer en hy plaas ook groot klem op die vermyding van blouligtoestelle voor slaaptyd. Dit is bekend dat die kunsmatige lig wat fone, tablette en skootrekenaars uitstraal die verstand wakker hou. Daarom moet jy liewer nie e-posse lees of op die internet rondsnuffel voor jy inkruip nie.

Richard maan ook teen die gevare van kunsmatige lig vir kinders en ongebore babas.

Oormatige beligting van die naghemel is ewe nadelig as klimaatsverandering, sê hy.

© Cover Media